Klein Milan Pretorius se begrafnis vandag ná hy aan bakteriële meningitis sterf

‘n Sesjarige seun word vandag ter ruste gelê nadat hy verlede week aan bakteriële meningitis oorlede is.

Familie en vriende neem vandag afskeid van klein Milan Pretorius (6), die Graad 1-leerder wat verlede Maandag in sy pa se arms oorlede is ná ’n skielike siekbed weens bakteriële meningitis.

Milan se begrafnis vind vandag om 13:00 plaas by die Simplicity Lokaal, Plot 28, Reier in Roodeplaat.

Pretoria Rekord berig dat sy ma Bianca, vra dat almal wat die begrafnis bywoon asseblief nie swart moet aantrek nie.

“Dit voel hy was net 6 jaar oud, ons wil sy lewe vier. Ons wil hom op ‘n mooi vrolike manier groet.”

Bianca het bygevoeg dat ‘n ballon vir klein Milan los gelaat gaan word.

Sy het verlede week vertel dat Milan Sondag, 1 Februarie, begin kla het van hoofpyn en dat sy toe opgemerk het hy het koors.

“Ons al drie kry gewoonlik koors en hoofpyn, veral van die hitte, en Sondag was dit baie warm. Milan het gesê sy koppie is seer en hy het koors gehad. Ek het vir hom medisyne gegee en hy het ’n bietjie gaan lê op die bank,” het sy gesê.

Volgens Bianca het Milan later gesê sy lyfie is seer, maar hy het steeds – soos gewoonlik – probeer speel. Dit was eers later die Sondagaand toe hy vir haar sê sy lyfie is baie seer en hy voel baie sleg.

“Milan het op ons bed gelê en hy het begin opgooi. Ons het hom skoongemaak en hy het so gehuil, want hy was bekommerd omdat ons bed nat was,” het Bianca vertel.

Bianca en haar man, Luard, het toe met Milan na Montana Hospitaal gehaas, waar die gesin glo onmiddellik in isolasie geplaas is.

“Hulle het by ons aankoms gesê dit is moontlik breinvliesonsteking oor die blou kolletjies wat op sy vel begin verskyn het. Milan is opgeneem en verskeie bloedtoetse is gedoen,” het sy gesê.

Die bloedtoetse het bevestig dit is bakteriële meningitis (meningokokke-breinvliesontsteking). Bianca sê hulle weet steeds nie waar Milan moontlik blootgestel is nie.

Teen Maandagoggend, 2 Februarie, is Milan per ambulans na ’n ander hospitaal oorgeplaas vir ’n beskikbare ICU-bed.

“Ek was saam met Milan in die ambulans en pappa Luard het agter ons aangery. Milan het steeds koors gehad, maar net sy koppie en bors was warm – die res van sy lyfie was yskoud,” het sy gesê.

Bianca sê Milan het met tye bygekom, maar dit was asof hy nie regtig geweet het wat om hom aangaan nie.

“By die hospitaal het die dokters hom dadelik op suurstof gesit. Die blou kolletjies het al verder oor sy lyfie versprei. Maar ná ongeveer 40 minute het Milan sy laaste asem uitgeblaas in sy pappa se arms,” het ’n huilende Bianca gesê.

Milan was Bianca en Luard se enigste kind. Sy beskryf hom as ’n liefdevolle, vriendelike seuntjie wat altyd wou help en baie lief was vir kosmaak, kamp en saam met pappa visvang.

Hy was ook glo mal oor Monster Trucks.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Corné van Zyl

Corné van Zyl is a seasoned journalist and currently a senior reporter at Rekord, with a wealth of experience across various media platforms. She began her career after studying journalism at the Tshwane University of Technology (TUT) and first honed her skills at Media24. Corné’s career took her to Beeld, Sondag newspaper, and the South African Press Association (SAPA), where she built a strong foundation in news reporting. In her free time, Corné enjoys spending time with her family outdoors, embracing life and creating lasting memories with her loved ones.
Back to top button