Kyk: PlatZnoot en YapZnoot help Afrikaanse kinders om Amerikaans te verstaan

Ná haar verhuising na Amerika gebruik ’n Afrikaanse ma twee unieke karakters om kinders en volwassenes te help om die ‘vreemde Engels’ en kultuur te verstaan.

’n Afrikaanse vlugteling van Heidelberg in Gauteng, wat sowat vyf maande gelede, Suid-Afrika vir die Amerikaanse droom verruil het, het twee tipiese Afrikaanse karakters geskep om kinders te leer hoe om Amerikaans te praat.

“Welkom in die wêreld van PlatZnoot en YapZnoot,” lag Nerine Beukes, oor die platsnoet-brakkie en sy japsnoet-maatjie wat nou die digitale wêreld behoorlik op hol het.

Die Facebook-reeks, wat uit kort video’s en poskaarte bestaan, poog om kinders en volwassenes te laat leer sonder dat dit soos skoolwerk voel, sê Beukes.

“As hulle eers gelag het, onthou hulle gewoonlik die antwoord. En as hulle nie die antwoord onthou nie, onthou hulle darem die hond.”

Beukes sê sy het gedog haar Engels is heel goed totdat sy in Amerika aangekom het. “Ek het ontdek daar is Engels, en dan is daar Amerikaans. Ons verstaan die woorde, maar gebruik dit nie altyd op dieselfde manier nie. Dit is amper soos om ’n toets te skryf waarvoor jy wel geleer het, maar toe kry jy die verkeerde vraestel.”

Volgens Beukes het die reeks met taalverskille begin (die Amerikaners praat nie Engels nie, maar Amerikaans), maar is besig om te groei om ook die Amerikaanse  geskiedenis, kultuur, plekke, kos, padreëls en dinge wat kinders later selfs met die burgerskapstoets kan help, insluit.

“PlatZnoot (dit is nou die hond) verstaan iets verkeerd, YapZnoot probeer dit verduidelik en dan ontdek hulle saam hoe Amerika werk. Soms verstaan ek dit self eers nadat ek die episode gemaak het,” verduidelik Beukes.

Unieke woorde wat ’n handelsmerk word

Beukes, wat onder die skuilnaam Magriet, die administrateur van die Facebook-groep SARAH in the USA, is, sê die oorspronlike Afrikaanse name vir haar karakters was Japsnoet en Platsnoet. “Japsnoet laat ’n mens dink aan iemand wat baie praat, terg of gedurig iets te sê het. ’n Regte wysneus. Platsnoet beskryf natuurlik daardie pragtige plat gesiggie van ’n Franse bulhond. Of, soos hulle self waarskynlik sou sê, ’n uiters verfynde gesig met beperkte neusruimte.

“Toe die karakters ’n internasionale gehoor begin kry, het ek die spelling aangepas sodat Engelssprekendes dit makliker kon lees en uitspreek. Daarom het Japsnoet YapZnoot geword en Platsnoet het PlatZnoot geword.

“Die hoofletter Z is deel van die handelsmerk en gee die name hulle eie persoonlikheid. Die wêreld van die karakters staan nou bekend as The World of PlatZnoot.”

Waarom Japsnoet YapZnoot geword het

Sekere woorde moet in Amerika baie sensitief hanteer word en ‘Jap’ is een van hulle, verduidelik sy. In Amerika kan  ‘Jap’ immers as ’n aanstootlike en kwetsende term vir ’n Japannese persoon beskou word, en dit is beslis nie iets waarmee sy haar handelsmerk wil verbind nie.

Beukes probeer per slot van rekening mense leer en laat lag, en sy wil nie in die eerste episode al ’n internasionale diplomatieke voorval veroorsaak nie.

“‘Yap’ beteken egter heeltemal iets anders, want dit kan verwys na ’n klein hondjie wat aanhoudend blaf of iemand wat baie praat, en dit pas perfek by die karakter terwyl dit steeds iets van die oorspronklike Afrikaanse Japsnoet behou.”

Dáárdie taalverskille

Beukes sê kinders leer taalgebruik, tegnologie, skoolstelsel en sosiale reëls baie vinniger as hulle ouers. “Hulle begin makliker verstaan wat Amerikaners bedoel en korrigeer later sommer hulle ouers se uitspraak. Niks hou ’n mens so nederig soos ’n tiener wat jou in die openbaar reghelp nie.”

Beukes het self drie kinders – ’n tweeling van 15 en ’n 21-jarige seun.

Haar kinders, sê sy, het baie vinniger begin om Amerikaans te praat as sy.

“My Afrikaanse aksent is nog baie sterk, maar my woordeskat is stelselmatig besig om te veramerikaans. Ek sê nou soms trash in plaas van rubbish, gas in plaas van petrol en cart in plaas van trolley.

“Ek woon boonop in die suide van Amerika, dus word y’all en have a good one wanneer jy iemand groet of totsiens sê, gevaarlik vinning deel van jou woordeskat. Ek vermoed howzit en lekker baklei tans om oorlewing.”

‘Pants’ is ’n gevaarlike woord

Suid-Afrikaners verwys dikwels anders na alledaagse dinge, sê Beukes.

“Ons praat hier van ’n robot. In Amerika is dit ’n traffic light. Ons sit bagasie in die boot, hulle sit dit in die trunk. Ons maak die bonnet oop, hulle maak die hood oop. Ons stoot ’n trolley, hulle stoot ’n cart.

“Pants is nog ’n gevaarlike woord. Vir ons kan dit onderklere beteken, maar in Amerika is dit gewoonweg ’n langbroek. Dit is dus belangrik om eers seker te maak in watter land jy is voordat jy iemand oor sy pants komplimenteer.

“Pavement is ook verwarrend. Vir ons is dit die plek waar mense loop, maar in Amerika verwys pavement dikwels na die geplaveide padoppervlak. Die plek waar mense loop, is die sidewalk.

Beukes sê sy staan soms letterlik in ’n winkel en vertaal Engels na Engels. “Dit is ’n besondere talent wat ek eers in Amerika ontwikkel het,” spot sy.

“Die Amerikaners is darem gewoonlik geduldig. Hulle kyk eers ’n bietjie verward, luister weer na die aksent en probeer dan uitwerk wat hierdie vrou uit Afrika eintlik soek. Ek wys later maar met my hande. Dit werk in enige taal.”

Bekende woorde beteken iets anders

Volgens Beukes is dit nie altyd die woorde self wat vreemd is nie. “Dit is dat bekende woorde skielik ’n ander betekenis het.

“’n Yard is vir ons amper ’n werf, maar Amerikaners praat daarvan as die grasperk of ruimte rondom die huis. ’n Faucet is ’n kraan. Mail is pos. Vacation is holiday. A line is ’n queue. A parking lot is ’n car park.

“Dan is daar natuurlik Fahrenheit, myle, ponde en onse. Net wanneer jy dink jy verstaan die gesprek, moet jy skielik wiskunde doen om uit te werk of dit warm is, hoe ver jy moet ry en hoeveel iets weeg. Ek het Amerika toe gekom om ’n nuwe lewe te begin, nie om weer graad vyf wiskunde te doen nie.

“Daylight saving time was ook ’n hele nuwe avontuur. In Amerika verander selfs die horlosie skielik van plan. Niemand vra jou toestemming nie. Jy word net wakker en jou hele dag is ’n uur verkeerd.”

Sowat 8 000 Afrikaner-vlugtelinge in Amerika

Daar is  vroeër vanjaar berig dat Amerika sowat  7 500 Afrikaner-vlugtelinge ingeneem het, maar kenners meen die getal Afrikaners wat van pres. Donald Trump se aanbod om vlugtelingstatus gebruik gemaak het, het reeds tot ongeveer 8 000 gegroei.

Op grond van terugvoer uit die gemeenskap en haar Facebook-groep glo Beukes dat talle gesinne die groot trek na Amerika aangedurf het.

“As die syfer van 8 000 korrek is, sou ek baie versigtig skat dat daar moontlik ongeveer 2 300 Afrikaanse kinders onder 18 hier kan wees. Dit bly egter net ’n persoonlike skatting. Die werklike getal kan hoër of laer wees.”

Beukes glo daar is genoeg kinders dat meer aandag dringend aan hulle ervaringe gegee moet word. “Die volwassenes praat oor werk, behuising, dokumente en geld. Die kinders dra intussen hulle eie groot veranderinge, dikwels baie op ’n stiller manier.”

Haar kinders moes binne ’n baie kort tyd leer hoe ’n nuwe land werk. “Vir die tieners het hulle wêreld verander van bekende vriende, familie, skole en roetines na ’n plek waar selfs eenvoudige dinge anders is. Hulle mis ook die ander ouer mense wat vir hulle belangrik is en die diere wat ons tydelik moes agterlaat.”

Beukes sê dat haar oudste seun baie vinnig van jongmens na ’n volwassene moes beweeg. “In Amerika moet jy leer werk, vervoer reël, dokumente verstaan, krediet begin opbou en verantwoordelikheid neem terwyl jy self nog probeer uitwerk waar jy inpas. In Suid-Afrika leer jy jou kind om ’n ketel aan te sit. Hier moet jy aan hom verduidelik hoe kredietgraderings werk.

“Ons hoor dikwels kinders is veerkragtig, maar veerkragtigheid beteken nie hulle is onaangeraak nie. Soms dra hulle dit net stiller. Hulle sit hul oorfone op, praat met hulle vriende aanlyn en gaan aan omdat hulle ook voel hulle móét.”

Beukes het onlangs vir haarself ’n paar HeyDude-skoene aangeskaf. Dit is glo ’n handelsmerk wat baie gewild is in Amerika. “Ek kan dus nou amptelik sê: “Hey dude, kyk my HeyDudes!”

Maar, sê sy, die dag wat sy met ’n volle Amerikaanse twang begin praat, moet iemand haar asseblief huis toe stuur vir ’n koppie rooibostee en ’n taalregstelling.

“Maar ek hou my HeyDudes. Daardie skoene gaan nêrens nie.”

Kyk na die video hier:

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button