Louis Liebenberg in hegtenis: ‘Hy het al die ondersteuning wat hy nodig het’
Die Valke sê altesame agt mense is gisteraand in twee provinsies in hegtenis geneem in verband met ’n diamant-beleggingsskema.
Die land is aan die gons nadat die omstrede diamantsmous Louis Liebenberg gisteraand deur die Valke in Benoni gearresteer is.
Liebenberg, wat onder meer die media gehaal het nadat hy oud-president Jacob Zuma befonds het in sy onsuksesvolle poging om staatsaanklaer Billy Downer en joernalis Karyn Maughan privaat te vervolg, is saam met sy vrou Dezzi in hegtenis geneem terwyl hulle by ’n restaurant was.
Die arrestasie is deur Die Waarheid Media, Liebenberg se publikasie, bevestig. ’n Berig op die webwerf lui dat kolonel Danie Bruwer aan stuur van die arrestasies was en dat beide Liebenberg en sy vrou geboei en in aparte voertuie van die toneel af vervoer is.
In ‘n skermskoot van ‘n plasing op Forever Diamonds and Gold se Facebook-blad wat deur Mike Bolhuis versprei is, skryf ’n vrou dat sy by was tydens die arrestasie. “Ons is wel ‘n stappie voor en ons kan julle waarborg dat Louis en Dezzi al die ondersteuning het wat hulle nou nodig het,” lui die plasing.
Die Nasionale Vervolgingsgesag blaas al vir jare in Liebenberg se nek met sy maatskappy Tariomix, Forever Diamonds and Gold, wat as Ponzi-skema verdink word. Sy bankrekening, met R100 miljoen daarin, was vir ‘n wyle in Maart 2022 gevries, maar Liebenberg kon die bevel egter suksesvol teenstaan.
Liebenberg en Dezzi, wat volgens Daily Maverick voorheen ‘n eiendomsagent was, is in Oktober 2022 getroud. Talle omstrede politieke figure, soos die voormalige minister vir sosiale ontwikkeling Lindiwe Zulu en Charl Niehaus, was op die gastelys. Zuma kon volgens media berigte nie die seremonie bywoon nie weens gesondheidsredes.
Die likwidasie aansoek teen Tariomix is tans voor die hof. Volgens die berig op Die Waarheid Media asook die Facebook-plasing deur ‘n ooggetuie tot die arrestasie op die Forever Diamonds and Gold Facebook-groep, was die likwidateur Vaughn Victor ook op die toneel toe die Liebenbergs geboei is.
Privaatondersoeker Mike Bolhuis het die owerhede, die likwidateurs en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens geloof vir hulle harde werk wat tot die arrestasie gelei het.
Die Valke het intussen Woensdagoggend in ’n verklaring gesê altesame agt verdagtes is gisteraand in Gauteng en Noordwes in hegtenis geneem in verband met die diamant-beleggingsskema.
“Onder die verdagtes is ’n paartjie, van wie die man na bewering die meesterbrein agter die skema is saam met sy vrou,” lui die verklaring.
Kolonel Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê in die verklaring dat beleggers sedert 2019 meer as R4 miljard kwyt is weens dié skema.
“Meer arrestasies gaan binnekort volg en die verdagtes sal na verwagting Donderdag in die Bronkhorstspruit-landdroshof verskyn.”
Die aanklagte teen die verdagtes sluit onder meer in bedrog, geldwassery, diefstal en rampokkery.
Kyk hier na ‘n video wat Liebenberg vanoggend uit die polisiestasie gemaak het:
Read original story on www.citizen.co.za