Man bly in aanhouding ná beweerde aanranding van vrou in George
'n Man se stiefdogter het gesê haar ma is jare lank mishandel voordat sy die Wes-Kaapse polisie betrek het.
’n 34-jarige man wat in verband met die ernstige aanranding van sy vrou in Thembalethu in hegtenis geneem is, bly in aanhouding en sal eers Maandag (23 November) in die Thembalethu-landdroshof in George verskyn, berig George Herald.
Hy sou na verwagting gister (17 November)in die hof verskyn, maar die saak het nie voorgekom nie.
Die Thembalethu-speurders ondersoek die voorval as poging tot moord, het die polisie bevestig.
Volgens ao. Christopher Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, is polisiebeamptes op 15 November na George-hospitaal ontbied, waar hulle die 44-jarige vrou met ernstige kopbeserings aangetref het. Sy is na bewering vroeër in Tabatastraat, Sone 6, Thembalethu, aangerand.
‘n Man is later in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Die slagoffer se dogter (28) het vroeër aan George Herald vertel dat haar ma glo reeds jare lank deur haar stiefpa mishandel word.
Volgens die dogter het die mishandeling begin toe sy nog in graad 2 was. Sy beskryf haar stiefpa as uiters jaloers en manipulerend en sê haar ma is oor die jare fisiek en emosioneel afgebreek.
Die dogter het Dinsdagoggend saam met vriende en familielede van die slagoffer voor die hof byeengekom om hul teenkanting teen die moontlike toestaan van borgtog te wys.
Sy het later bevestig dat haar ma se toestand versleg het en dat sy weer in George-hospitaal opgeneem is.
Die polisieondersoek duur voort.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.georgeherald.com