Nataniël se optrede by Afrikaans is Groot ontketen geloofswoede

Beskuldigings van demoniese simboliek, ’n konsertganger wat uitstap en ’n debat oor Christenskap het nuwe verdeeldheid rondom ‘n gewilde Afrikaanse musiekproduksies laat ontstaan.

Afrikaans is Groot (AIG), wat jaarliks duisende Afrikaanse musiekliefhebbers na die SunBet Arena in Pretoria lok, bevind hom weer in die middel van omstredenheid.

Dié keer is dit nie politieke uitsprake of ’n kunstenaar se omstrede verlede wat die gesprek oorheers nie, maar ’n verhoogproduksie deur Nataniël le Roux (alombekend as Nataniël) wat sommige konsertoeskouers as demonies en godslasterlik ervaar het.

’n Konsertganger, JC Lamprecht, het ná Vrydagaand (20 November) se vertoning op sosiale media aangekondig dat hy uit die konsert gestap het omdat hy nie wou deelneem aan wat hy as die verheerliking van die goddelose beskou het nie.

“Ek sal nooit die goddelose openlik aanbid of verheerlik nie,” het hy geskryf.

Hy het sy verskoning aan die ander kunstenaars wat opgetree het, gerig, maar gesê daar het ’n oomblik aangebreek waarop dit vir hom duidelik geword het dat die produksie direk teen sy Christelike geloof indruis.

“Ek buig my knie voor slegs een Koning – Jesus Christus,” het hy geskryf.

Hy wou nie verdere kommentaar lewer nie.

Sy plasing het ’n hewige reaksie ontlok, met talle gebruikers wat hom geloof het omdat hy volgens hulle bereid was om vir sy geloofsoortuigings op te staan.

Ander het die produksie veroordeel en gesê die verhoogbeelde en simboliek behoort nie tuis by ’n Afrikaanse musiekfees nie.

Een vrou het selfs beweer dat sy die ‘onheil’ in die lug gevoel het en skielik koue rillings gekry het.

Sommige het gesê dat hulle nooit weer dié konsert gaan bywoon nie.

Die kritiek het egter ook teenreaksie ontlok van mense wat meen dat Nataniël se werk verkeerd vertolk word en dat ongewone teaterbeelde nie outomaties met satanisme of godslastering verbind kan word nie.

Die swewende spinnekop word deur sommige mense as diabolies beskou. Foto: Facebook/JC Lambrecht

’n Spinnekop, bloedrooi ligte en ongewone verhoogbeelde

Die omstredenheid sentreer rondom Nataniël se verhoogitem, wat volgens beskrywings en foto’s wat op sosiale media versprei is, ’n donker en teatrale visuele wêreld skep.

’n Reuse-spinnekop troon bo die verhoog uit, kompleet met gloeiende oë en skerp tande. Op die agtergrond verskyn hoë stadsgeboue onder ’n bloedrooi naglug, terwyl ’n groot maan die verhoogbeeld verder dramatiseer.

Nataniël verskyn in swart en rooi geklee, terwyl dansers in swart en wit gewade in formasies beweeg.

Nataniël en sy dansers het die tonge behoorlik laat klap. Foto: Facebook/Facebook/JC Lambrecht

Nataniël dra ’n kopstuk wat sterk herinner aan visvinne. 

Dan begin Nataniël sing: Ek is verlief op my gogga.

Die artistieke direkteur van AIG, Carien Loubser, het die kritiek verwerp dat die produksie demonies van aard is.

Volgens haar is die foto’s wat deur Lamprecht op sosiale media versprei is, uit konteks geknip en skep dit nie ‘n volledige beeld van die optrede nie.

Sy meen dit het ’n wanpersepsie geskep en sensasie aangewakker.

Loubser het gesê Nataniël se gedeelte bevat ’n betekenisvolle boodskap wat deur sy lirieke en die verhaal wat hy vertel, oorgedra word.

Sy het ook beklemtoon dat Nataniël sy gehoor en mense om hom met respek behandel en dat sy optrede nie godslasterlik is nie.

“Mens hoef nie van alles te hou nie, en jy hoef ook nie alles te verstaan nie, maar dit is onregverdig om iets wat jy nie verstaan nie as demonies af te maak,” het sy gesê.

Volgens Loubser het sy nie opgemerk dat mense tydens die vertoning uitstap nie. Sy het bygevoeg dat die gehoor tot die einde gebly het en dat die terugvoer oor Nataniël se optrede oorwegend positief was.

“Musiek het baie vorme. Jy kan daarop dans of diep raak. Dit kan jou laat lag of huil,” het sy gesê.

“Musiek kan jou laat onthou of vergeet. Elke persoon het die reg om sy eie interpretasie te maak. En dit is eintlik die wonderlike ding van musiek.”

Nie die eerste keer dat AIG onder skoot kom nie

Die jongste omstredenheid is nie die eerste keer dat Afrikaans is Groot se kunstenaarskeuses en artistieke identiteit ’n openbare debat ontketen nie.

Die produksie het reeds in 2012 ontstaan en het sedertdien tot een van die grootste Afrikaanse konsertreekse in die land ontwikkel.

In 2015 het die produksie ’n groot borgskapkrisis beleef nadat Steve Hofmeyr se omstrede uitlatings oor apartheid weer onder die soeklig gekom het.

’n Plasing wat Hofmeyr in Oktober 2014 op X (voorheen Twitter) gemaak het, waarin hy gesê het swart mense was die argitekte van apartheid, het tot openbare verontwaardiging gelei.

Pick n Pay en Land Rover het hulle in Maart 2015 aan die konsert se borgskap onttrek nadat hulle vroeër aangedui het dat hulle hul betrokkenheid sou heroorweeg.

Die geskil het ook ’n regsdebat ontketen nadat die komediant Conrad Koch en sy karakter Chester Missing die maatskappye se verhouding met Hofmeyr bevraagteken het.

Die saak het by die Johannesburgse hooggeregshof beland.

In 2019 het die omstredenheid weer opgevlam toe Hofmeyr op die kunstenaarslys vir Afrikaans is Groot verskyn het.

MTN het op 15 Maart 2019 aangekondig dat dit alle bande met die produksie verbreek weens die voortgesette verbintenis met Hofmeyr.

Toyota en Media24, waaronder Beeld, Huisgenoot, VIA en Netwerk24, het later ook hul betrokkenheid beëindig.

Die organiseerders het aanvanklik volgehou dat Hofmeyr deel van die produksie sou bly en het selfs ’n #JouAIG-veldtog van stapel gestuur om die publiek se finansiële steun te werf.

Hofmeyr het uiteindelik in September 2019 aangekondig dat hy hom aan die produksie onttrek om die toekoms van die konsert en sy medekunstenaars te beskerm.

Caxton Netwerk-nuus het ’n e-posnavraag aan Nataniël gestuur, maar teen die tyd van publikasie het hy nie gereageer nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button