NDBV eis ondersoek na SAPD-dierehospitaal ná polisiehond se dood
Sedert Sky se dood neem eise vir onafhanklike ondersoeke en beskuldigings van verwaarlosing toe ná nog polisiehonde se mediese rekords na vore kom.
Die tragiese dood van die polisiehond Sky het ‘n landwye storm ontketen oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se hantering en versorging van hul diensdiere. Ná ‘n dringende inspeksie by die SAPD-dierehospitaal in Roodeplaat eis die NDBV nou antwoorde oor verskeie dierewelsynsprobleme wat daar opgemerk is, berig Pretoria Rekord.
Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) sê die organisasie het ná ’n inspeksie van die SAPD-dierehospitaal by Roodeplaat, naby Pretoria, verskeie dierewelsynsprobleme opgemerk en ’n dringende vergadering met die polisie aangevra.
Die organisasie benadruk dat die omvang van Sky se beserings en die probleme wat tydens die inspeksie waargeneem is, direkte gesprekvoering met die polisie noodsaaklik maak. Die NDBV het aangedui dat verdere onaangekondigde inspeksies sal volg.
“Die veearts wat by die ondersoek betrek is, het ook insette gelewer oor Sky se behandelingsgeskiedenis, wat in ons besit is. Daar is sekere aspekte van die verslag wat verdere opklaring vereis,” lui die NDBV se verklaring.
Sky is op 9 September uitgesit nadat sy ernstige beserings opgedoen het terwyl sy by die Roodeplaat-fasiliteit gehuisves is.
Sky, ‘n polisiehond, het vir vyf jaar in Limpopo gewerk as deel van ‘n eenheid wat brande ondersoek.
Volgens Ian Cameron, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee vir die polisie, het haar linkervoorbeen teen ‘n hokhek vasgehaak. Sy het vir ’n lang tyd gesukkel en ernstige beserings opgedoen, insluitend verskeie fraktures en ’n oop fraktuur.
Sy is vir noodbehandeling na Onderstepoort geneem, maar haar toestand was so kritiek en onomkeerbaar dat sy uitgesit moes word.
Vrae oor verwaarlosing en administratiewe rompslomp
Die kernvraag vir Cameron is nou nie bloot hoe Sky dood is nie. “Waarom is sy toegelaat om so ernstig beseer te word, en hoekom is daar nie redelike stappe vooraf geneem om dit te voorkom nie?” vra hy. Hy het ook bevestig dat administratiewe rompslomp in die pad gestaan het om Sky vooraf toe te ken aan ’n aansoeker wat gereed was om haar aan te neem.
Cameron het strafregtelike stappe oor Sky se beserings geneem en ’n saak aanhangig gemaak, hoewel hy noem dat die saak volgens sy inligting aanvanklik by die verkeerde polisiekantoor geregistreer is. Hy het ook ’n klagte by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) ingedien en gevra dat die saak onafhanklik ondersoek word.
Cameron het aan Pretoria Rekord gesê hy bevraagteken waarom niemand by die diereversorgingseenheid verwyder of geskors is sedert die onthullings nie, terwyl hy self ernstige vrae oor die fasiliteit se voortgesette bedryf het.
Hy het die Suid-Afrikaanse Veterinêre Raad (SAVC) in detail oor die geval ingelig. Die Raad het intussen ’n formele lêer oor SAPD Veeartsenydienste geopen (verwysing DM2621).
“Dit is nie ’n bevinding van skuld nie, maar beteken die saak is formeel by die professionele reguleerder aangemeld en moet ondersoek word,” verduidelik Cameron. Hy vra die Raad om alle dokumentasie oor Sky – met inbegrip van haar geskiedenis van angs en vorige beserings by die fasiliteit – te ondersoek, asook om ‘n onafhanklike beoordeling van die kliniese rekords en die oorsaak en duur van haar beserings te doen.
Nie ‘n geïsoleerde geval nie
Vir Cameron is die belangrikste vraag of Sky se dood ’n geïsoleerde voorval was. Inligting oor ander polisiehonde wat na vore gekom het, dui daarop dat daar wyer vrae oor mediese sorg, hokstres, toesig en die tydigheid van behandeling bestaan:
- Quintin (B5145): ’n Goue Labrador wat as dwelmspeurhond opgelei is. Sy rekords toon herhalende akrale lekgranuloom vanaf 2015 – ’n toestand wat met hokstres, angs en verveling verbind word. Hoewel ’n veearts aanbeveel het dat hy eerder by sy hanteerder gehuisves word, het dit volgens dokumente nie gebeur nie. Latere foto’s toon ernstige beenbeserings. Quintin is uiteindelik uit die hokomgewing verwyder nadat hy homself herhaaldelik beseer het.
- Cyrus (B6392): ’n Dwelmspeurhond by Durban-Sentraal K9 wat in September 2025 ’n oop wond aan sy linkervoorbeen opgedoen het. Sy toestand het volgens mediese rekords daarna versleg met gewigsverlies, eetlusverlies, depressie en toenemende swakheid. Teen Oktober is moontlike nierversaking aangeteken, waarna hy uitgesit is.
Brigadier Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het aan Pretoria Rekord bevestig dat daar nie veel toegevoeg kan word tot die polisie se vorige verklaring waarin Sky se dood betreur en haar genadedood bevestig is nie.
Navrae oor ander aspekte van polisiehondversorging is aan die polisie gerig, maar geen antwoorde is teen druktyd ontvang nie.
Read original story on www.citizen.co.za