Oud-korrektiewe dienste werknemer gevonnis vir kind se verkragting

‘n Mediese ondersoek het getoon dat die meisie verskeie beserings gehad het wat ooreenstem met mishandeling wat oor ‘n tydperk plaasgevind het.

Neil Cramford (56), ‘n voormalige werknemer by Korrektiewe Dienste, is twee lewenslange vonnisse opgelê vir die verkragting van ‘n 10-jarige meisie in 2023 en 2024 in Michausdal, Inxuba (voorheen Cradock) in die Oos-Kaap.

Cramford, wat in dieselfde woonbuurt as die jong slagoffer gewoon het, het die jong meisie genooi om sy huis skoon te maak. 

Binne die woning, het hy die deur gesluit, haar gegryp en haar verkrag.

Die klaer het probeer om weerstand te bied, maar die beskuldigde het die aanranding voortgesit. Hy het toe gedreig om haar leed aan te doen as sy vir iemand sou vertel wat gebeur het.

Meisie telkemale aangerand

By ‘n ander geleentheid, terwyl sy by haar maats gespeel het, is die meisie weer na Cramford se huis geroep onder die dekmantel van huis skoonmaak. Hy het haar toe weer verkrag.

In nog ‘n voorval is die slagoffer deur haar tante gestuu rom suiker by die buurvrou te gaan leen.

Sy is toe deur Cramford na ‘n afgeleë plek geneem waar hy haar verkrag het.

Die slagoffer het uiteindelik haar tante in vertroue geneem en die aanrandings aangemeld.

‘n Mediese ondersoek het bevestig dat sy nuwe geslagsbeserings opgedoen het wat ooreenstem met onlangse mishandeling, sowel as ouer beserings wat dui op vorige trauma.

Cramford het skuld op twee aanklagte beken nadat hy op 23 Julie verlede jaar in hegtenis geneem is.

Direkteur van openbare vervolging verwelkom vonnis

Senior staatsadvokaat Sakhumzi Mtsila, het in die Oos-Kaapse Hooggeregshof gepleit vir ‘n gepaste vonnis wat die erns van die misdrywe weerspieël.

Mtsila het beklemtoon dat ‘die beskerming van vroue en kinderregte uiters belangrik is, aangesien hulle dikwels die kwesbaarste lede van die samelewing is’. Hy het verder opgemerk dat ‘geweld teen vroue en kinders ‘n deurdringende kwessie is wat nie net die individu raak nie, maar ook die gemeenskap in die algemeen’.

Oos-Kaapse direkteur van openbare vervolging, Barry Madolo, het die vonnis verwelkom en gesê die vonnis dien as ‘n bewys van die verbintenis van die NVG om die regte en waardigheid van alle burgers, veral kwesbare kinders, te beskerm.

“Hierdie vonnis bevestig ons toewyding om te verseker dat geregtigheid geskied, veral vir slagoffers van geweld- en seksuele misdade,” het Madolo gesê.

 

Read original story on www.graaffreinetadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button