PA-raadslid van Suid-Kaap uit op R500-borgtog ná poging tot moord-klag

’n Man is in die hospitaal opgeneem nadat hy Sondagaand tydens ’n aanval in Oudtshoorn verskeie steekwonde opgedoen het.

Abraham Tiemie, ’n raadslid van die Patriotic Alliance  in die Oudtshoorn-munisipaliteit, is gister (23 November) op borgtog van R500 vrygelaat nadat hy in die Oudtshoorn-landdroshof op ’n aanklag van poging tot moord verskyn het.

Tiemie word saam met Daniel Bruintjies en drie minderjariges, onder wie ’n 16-jarige, in verband met ’n aanval in Rosebank aangekla. Al vyf beskuldigdes staan tereg op aanklagte van poging tot moord en huisbraak, berig Oudtshoorn Courant.

Die vyf is Sondagaand (22 November) in hegtenis geneem ná die voorval by Square-kamp in Bella Rosasingel, Rosebank.

Volgens AO Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die aanval omstreeks 18:10 plaasgevind.

Lede van die publiek het polisielede van die Oudtshoorn-polisie, wat op patrollie was, van die voorval in kennis gestel.

Die beamptes het die slagoffer met verskeie steekwonde aan sy liggaam aangetref. Hy is per ambulans na die hospitaal vervoer.

Staatsaanklaer Thuba Nyamane het nie Tiemie se borgtogaansoek teengestaan nie. Hy is op borgtog van R500 vrygelaat, terwyl Bruintjies en die drie minderjariges op waarskuwing vrygelaat is.

Die vrylating op waarskuwing is onderhewig aan voorwaardes dat die beskuldigdes nie met getuies kontak mag maak nie en hulle nie aan verdere misdade skuldig mag maak nie.

Curwin Lucas van die regsfirma Duvenhage, Keyser en Jonck het namens die beskuldigdes verskyn.

Die omstandighede rondom die voorval is nog nie bekend nie.

Die saak is tot 26 Januarie vir verdere ondersoek uitgestel.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Garnett Wicomb

Die berig is deur 'n joernalis van Oudtshoorn Courant geskryf.
Back to top button