Seun van Oudtshoorn ernstig beseer ná ‘speletjie’ skeefloop

Sherwin Netherlands (13) is in 'n kritieke toestand nadat hy ernstig beseer is terwyl hy saam met vriende gespeel het.

‘n Seun van Oudtshoorn is in ‘n kritieke toestand in George-hospitaal na hy ernstig seergekry het terwyl hy saam met vriende gespeel het.

Oudtshoorn Courant berig volgens Elizabeth Janse, Sherwin Netherlands (13) se tannie, het hy op 26 Januarie saam met sy oupa, George Jansen, by vriende gaan kuier.

“Sherwin, sy boeties en sussie is in my pa se sorg, omdat hulle ma 11 jaar gelede oorlede is. Die kinders het almal buite gespeel. Daar het ‘n ouer seun van so 17 jaar oud saam met hulle gespeel. Sherwin se boetie, wat ook die aand daar was, sê die ouer seun het Sherwin op ‘n stadium teruggeroep en gesê hy moet omdraai, want daar is iets op sy rug.

“Toe Sherwin omdraai het die seun ‘n greep om sy nek gekry en hom begin wurg. Hy het glo gesê hy wil kyk hoe lank Sherwin sy asem kan ophou. Die ander kinders het vir hom gesê hy moet los, want Sherwin se bene raak lam en toe val Sherwin vorentoe. Hy het op sy neus teen die ronde boustene geval en toe agteroor geval.”

Elizabeth Janse, Sherwin Netherlands se tannie. Foto: Liezl van Niekerk

Volgens haar speel die seun gewoonlik rof met ander kinders, maar het so iets nog nie gebeur nie.

Janse sê daar was nie tyd om te wag vir ‘n ambulans nie, en Sherwin se oupa het dadelik met hom hospitaal toe gejaag. Hier het hy steke gekry en is ontslaan.

“Hy het Maandag koorsig geraak en dit het gelyk of hy ruk en ek het hom teruggeneem hospitaal toe. Die dokter het gesê hulle is baie bekommerd en het hom George toe gestuur. Hier het hulle uitgevind dat sy neus, sowel as die beentjies by sy sinusholtes en sy voorkop en oogbank bo gekraak en gebreek het. Hy is van daar oorgeplaas Kaap toe en sal nou ‘n operasie moet ondergaan.”

Volgens haar is hy weer in Oudtshoorn-hospitaal opgeneem en oorgeplaas George toe waar hy tans op die operasie wag.

“Die dokter het gesê dat sy brein baie seergekry het en dat Sherwin waarskynlik nie weer normaal sal wees nie. Hy praat onsamehangend en die eenkant van sy lyf is lam.”

Volgens haar het die dokter Maandag die voedingsbuis uitgehaal en kon hy bietjie eet.

“Ons is regtig bekommerd. Sy toekoms is so onseker. Mens kan sien sy brein het seer gekry. Hy is amper weer soos ‘n baba. Dit is vir ons versrkiklik hartseer om hom so te sien. Sy sussie mis hom erg.”

Janse sê sy hoop dat hierdie storie ander mense bewus sal maak van die speletjies wat kinders speel.

“Die kinders doen gevaarlike goed met mekaar, omdat hulle nie besef watter nadelige gevolge dit kan hê nie. Daar is nog ‘n speletjie, Toffie, wat hulle speel wat hulle mekaar hard op die kop slaan.

“Dit lyk baie onskuldig op sosiale media, maar net een iets kan verkeerd gaan, soos met Sherwin, en dit kan lewens verwoes. Dit is nie net Sherwin wat hieronder ly nie – dit het ‘n invloed op ons as familie ook.”

Sy sê hulle het ‘n klag by die polisie ingedien en ‘n klag van poging tot moord word ondersoek. Niemand is egter nog in hegtenis geneem nie.

Nuus wat saak maak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp kanaal.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button