Soektog na leeu in Redan duur voort

Die polisie in die Vaaldriehoek het inwoners gewaarsku om nie die sosialemedia-gerugte te glo dat ’n leeu reeds opgespoor is nie.

Die polisie het inwoners gewaarsku om nie vals berigte oor ’n leeu, wat sedert vroegoggend op 14 Oktober in Redan in die Vaaldriehoek gesoek word, te versprei nie.

Dit volg nadat gerugte op sosiale media die ronde begin doen het dat die dier reeds gevind is en verdoof sou word voordat dit na Bloufontein Wildlife Park vervoer word. Die soektog duur egter steeds voort, berig die Vaalweekblad.

’n Ondersoekbeampte AO Pieterse, wat by die soektog betrokke is, het dié bewerings ontken en bevestig dat die soektog steeds voortduur.

“Please don’t post stuff on the group if you are not sure about it. Just confirm what you post,” het Pieterse gewaarsku.

Ithumeleng Mobadi, ’n veiligheidswag, het die leeu omstreeks 03:50 daardie oggend opgemerk en afgeneem terwyl hy op patrollie was.

Bloufontein Wildlife Park het intussen enige verbintenis met die dier ontken. Die wildpark het op gister (14 Oktober)  in ’n verklaring bevestig dat al sy diere nagegaan is en dat geen leeus of ander diere vermis word nie.

Dit is dus nie bekend waar die dier vandaan gekom het nie.

Daar bestaan ook onsekerheid oor of dit ’n leeumannetjie of -wyfie is. Hoewel Bloufontein in sy verklaring na ’n leeumannetjie verwys het, vermoed Mobadi dat dit ’n leeuwyfie is omdat hy nie ’n groot maanhaar opgemerk het nie.

Soekspan volg die dier se spoor

Die soektog het intussen na McKay Estates-landbouhoewes, naby Redan, verskuif. Die gebied is aan die Redan-kant van die landbouhoewes geleë.

Kobus Jordaan, wat by die soektog betrokke is, het omstreeks 10:23 vanoggend (15 Oktober) bevestig dat die span weer op die dier se spoor is.

Die span kon die dier se spoor volg, maar het steeds gesukkel om die leeu self op te spoor. Die digte bosse en plantegroei bemoeilik die soektog en vertraag die span se vordering.

Hommeltuig help met soektog

’n Hommeltuig wat glo met hittebeeldtegnologie toegerus is, word ook gebruik om die leeu op te spoor. Die tegnologie stel die operateur in staat om temperatuurverskille waar te neem, wat kan help om diere tussen digte plantegroei of in swak ligtoestande te vind.

Die polisie se honde-eenheid, plaaslike inwoners en verteenwoordigers van Bloufontein Wildlife Park is by die soektog betrokke.

Hoewel ’n bron wat by die soektog betrokke is, vroeër aan Vaalweekblad gesê het dat die span die dier gewaar het, is dit nog nie gevang of verdoof nie.

Pieterse het inwoners versoek om die polisie onmiddellik te kontak indien hulle die leeu gewaar en om nie onbevestigde berigte oor die soektog verder te versprei nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Die berig is deur 'n joernalis van die Vaalweekbblad geskryf.
Back to top button