Toe nie geslote vir altyd: Parys se slotte word verwyder

Vir jare word slotte aan die bekende hangbrug gehang, soms as liefdesimbool en ander kere ter nagedagtenis aan ‘n familielid.

Al die slotte aan die bekende hangbrug oor die Vaalrivier in Parys sal vandag verwyder word sodat die draad weerskante van die loopvlak vervang kan word ter wille van die veiligheid van talle besoekers en toeriste.

Amptelike toestemming hiervoor is vandeesweek deur die Ngwathe-munisipaliteit, waarvan Parys deel is, se uitvoerende Burgemeester Victoria de Beer gegee

Die slotte wat verwyder word, sal nie vernietig word nie, maar sal vir ses maande gehou word by Jacks Paint, Waterstraat 25, Parys, waar mense wat slotte op die brug gehad het, dit kan gaan afhaal, het Stephanie Fourie bevestig wat etlike weke gelede die inisiatief geneem het vir die herstel van die hangbrug en verfraaiing van die omgewing by die hangbrug.

Die hangbrug in Parys.

Hoewel aanvanklik net van die erg geroeste slotte verwyder is om herstelwerk aan die brug te kan doen, was dit nadat daar Dinsdag begin is met die vervanging van die draad, duidelik dat daar geen ander keuse is as om al die slotte te verwyder nie. Die toestand van die veiligheidsdraad weerskante van die loopvlak is ‘n ernstige risiko vir mense wat oor die brug loop en moet baie dringend vervang word.

Hier kan duidelik gesien word hoe groot die skade aan die veiligheidsdraad weerskante van die loopvlak van die brug is.

Daar sal wel met voltooiing van die projek ‘n alternatief geskep word vir mense wat die brug besoek, om hulle slotte daar te kan hang.

Die brug is vir jare een van Parys se grootste en gewildste toerisme-trekpleisters, en het menige paartjie oor die jare al met ‘n slot aan die brug ewige trou beloof. Ander het weer slotte kom hang ter nagedagtenis aan ‘n familielid, of vir ‘n foto op die brug waar ‘n slot gehang word met die datum waarop die toerismejuweel besoek is.

Vandeesweek is reeds begin met die vervanging van die veiligheidsdraad op die voorste gedeelte van die brug.

Behoefte om brug reg te maak

Die gewig van die honderde slotte aan die draad en brugkabels wek al lank kommer, en met die reeds uitdagende taak om die veiligheidsdraad te vervang, is daar nou geen ander uitweg – al die slotte moet af.

Fourie wat aanvanklik eers begin het om die R59 skoon te maak, het mettertyd die behoefte raakgesien om ook hier by die hangbrug reg te maak. Verskeie individue en sakelui het haar ondersteun en is daar uit eie sak etlike weke gelede begin om by die brug daagliks skoon te maak, slaggate te herstel, padmerke te verf, die verbleikte straatname op die sypaadjies by die brug weer oor te verf, skade wat vroeër vanjaar deur die vloed aan die rivierwal gemaak is, te herstel, en die hele brug te verf.

Die toestand van die los metaalplate op die brug en die veiligheidsdraad was egter ‘n probleem, en is nadat toestemming gekry is, ook met dié groot taak vandeesweek begin.

Die verskil wat alreeds die afgelope weke gemaak is, sal jy nie glo nie.

Kyk net hoe netjies lyk dit reeds waar gewerk is.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button