News

Daar’s geen ander keuse nie – al die slotte moet af

Al die slotte aan die bekende hangbrug oor die Vaalrivier in Parys sal vandag, Donderdag 14 September, verwyder word sodat die draad weerskante van die loopvlak vervang kan word ter wille van die veiligheid van talle besoekers en toeriste.

Amptelike toestemming hiervoor is vandeesweek deur die Ngwathe munisipaliteit waarvan Parys deel is, se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, gegee

Die slotte wat verwyder word, sal nie vernietig word nie, maar sal vir drie weke gehou word by Jacks Paint Waterstraat 25, Parys, waar mense wat slotte op die brug gehad het, dit  kan gaan afhaal, het Stephanie Fourie bevestig wat etlike weke gelede die inisiatief geneem het vir die herstel van die hangbrug en verfraaiing van die omgewing by die hangbrug.

Hoewel aanvanklik net van die erg geroeste slotte verwyder is om herstelwerk aan die brug te kan doen, was dit nadat daar Dinsdag begin is met die vervanging van die draad,  duidelik dat daar geen ander keuse is as om al die slotte te verwyder nie. Die toestand van die veiligheidsdraad weerskante van die loopvlak is ‘n ernstige risiko vir mense wat oor die brug loop en moet baie dringend vervang word.

Hier kan duidelik gesien word hoe groot die skade aan die veiligheidsdraad weerskante van die loopvlak van die brug is. 

Daar sal wel met voltooiing van die projek ‘n alternatief geskep word vir mense wat die brug besoek, om hul slotte daar te kan hang.

Die brug is vir jare een van Parys se grootste en gewildste toerisme-trekpleisters, en het menige paartjie oor die jare al met ‘n slot aan die brug ewige trou beloof. Ander weer het slotte  kom hang ter nagedagtenis aan ‘n familielid, of vir ‘n foto op die brug waar ‘n slot  gehang word met die datum waarop die toerismejuweel besoek is.

Die gewig van die honderde slotte aan die draad en brugkabels  wek al lank kommer, en met die reeds uitdagende taak om die veiligheidsdraad te vervang, is daar nou geen ander uitweg – al die slotte moet af.

Stephanie wat aanvanklik eers begin het om die R59 skoon te maak, het mettertyd die behoefte raakgesien om ook hier by die hangbrug reg te maak. Verskeie individue en sakelui het haar ondersteun en is daar uit eie sak etlike weke gelede begin om by die brug daagliks skoon te maak, slaggate te herstel, padmerke te verf, die verbleikte straatname op die sypaadjies by die brug weer oor te verf, skade wat vroeër vanjaar deur die vloed aan die rivierwal gemaak is, te herstel, en die hele brug te verf. Die toestand van die los metaalplate op die brug en die veiligheidsdraad was egter ‘n probleem, en is nadat toestemming gekry is, ook met dié groot taak vandeesweek begin.

Die verskil wat alreeds die afgelope weke gemaak is, sal jy nie glo nie!

Vandeesweek is reeds begin met die vervanging van die veiligheidsdraad op die voorste gedeelte van die brug.

En kyk net hoe netjies lyk dit alreeds waar gewerk is. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button