Vaalrivier styg ná swaar reën, 2 Vaaldam-sluise oop

Die Vaaldam is meer as 113% vol, terwyl die Vaalrivier se watervlak by Schoemansdrift steeds styg.

Die Vaalrivier se watervlak is aan die styg ná swaar reën in die opvanggebied, met twee sluishekke wat by die Vaaldam oopgemaak is om die toenemende invloei van water te bestuur, berig die Parys Gazette.

Die Vaaldam was gister (28 November) 113,53% vol, met invloei van 435,12 kubieke meter per sekonde en uitvloei van 351,88 kubieke meter per sekonde.

Die departement van water en sanitasie het bevestig dat albei sluishekke oop sal bly totdat verdere hidrologiese ontledings en assesserings gedoen is.

Die eerste sluishek is Donderdag (26 November) om 12:00 oopgemaak, waarna die tweede hek op Vrydag (27 November) gevolg het.

Die departement het die opening van die eerste sluishek in ’n verklaring bevestig. Die opvolgverklaring van 27 November het die opening van die tweede sluishek en die rede vir die beheerde waterafvoer uiteengesit.

Vaalrivier styg by Schoemansdrift

Die styging is steeds by die Schoemansdrift-laagwaterbrug in die Vredefort Koepel sigbaar.

Teen ongeveer 17:30 gistermiddag was die watervlak by dié brug 1,56m, met vloei van 536,2 kubieke meter per sekonde.

Dit verteenwoordig ‘n styging van 14cm vanaf die oggend se lesing van 1,42m om 09:20. Die watervloei het in dieselfde tydperk van 451,1 tot 536,2 kubieke meter per sekonde toegeneem.

Foto’s wat Saterdagmiddag in Parys geneem is, wys ook hoe die rivier by die laagwaterbrug na Gholfeiland gestyg het.

Bloemhofdam se vlak word onder 90% gehou

Die beheerde vrystelling van water uit die Vaaldam is deel van die bestuur van die geïntegreerde Vaalrivierstelsel, wat uit 14 damme bestaan.

Die departement wil Bloemhofdam se watervlak op of onder 90% van sy volle kapasiteit hou. Dit is belangrik omdat herstelwerk tans aan die stroomopkant van Bloemhofdam se wal gedoen word.

Die departement het in sy verklaring oor die tweede sluishek verduidelik dat die waterafvoer uit die Vaaldam bestuur word om Bloemhofdam se vlak te beheer terwyl herstelwerk aan die damwal voortgaan.

Wanneer laas was die rivier so hoog?

Die huidige styging herinner aan November verlede jaar, toe die Vaalrivier by Schoemansdrift binne enkele dae dramaties gestyg het.

Die Parys Gazette het verlede jaar berig  dat die watervlak op 17 November verlede jaar op 0,85m gestaan, met vloei van 135,4 kubieke meter per sekonde.

Teen 18 November het die vlak reeds tot 1,6 m gestyg. Die rivier het daarna verder gestyg en teen 20 November verlede jaar reeds 3,2 m bereik, met vloei van 1 802 kubieke meter per sekonde.

Die huidige lesing van 1,56m is dus naby aan die vlak wat op 18 November verlede jaar aangeteken is, voordat die rivier destyds verder gestyg het.

Die geskiedenis wys ook hoe hoog die Vaalrivier tydens groter vloede kan styg. Van die hoogste aangetekende lesings by Schoemansdrift sluit in:

  • 22 Februarie 1975: 5,818m, met vloei van 4 212 kubieke meter per sekonde.
  • 19 Februarie 2023: 5,60m, met vloei van 4 028 kubieke meter per sekonde.
  • 9 Februarie 1944: 5,303m, met vloei van 3 725 kubieke meter per sekonde.
  • 8 Januarie 2011: 5,138m, met vloei van 3 533 kubieke meter per sekonde.

Inwoners gemaan om versigtig te wees

Die departement van water en sanitasie het gemeenskappe, boere en ander watergebruikers langs die Boonste en Middel-Vaalrivier, waaronder Parys, gemaan om waaksaam te bly.

Inwoners word versoek om weg te bly van vinnig vloeiende riviere, oorlopende laagwaterbrûe en laagliggende gebiede langs die rivier.

Die departement monitor die damvlakke, invloei en stroomaf-toestande deurlopend en kan die vrystelling van water aanpas indien die hidrologiese omstandighede dit vereis.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.
Back to top button