Veediewe dreig om vrou te verkrag tydens aanval op Middelburg-plaas

’n Veewagter is in die kop gesteek, sy vrou gedreig en items, insluitend 45 skape, gesteel toe ses rowers toegeslaan het.

Daar word tans gesoek na ses gewapende rowers wat Vrydagaand met meer as R112 000 se skape weggekom het, nadat hulle op ’n Elandslaagte-boerdery, naby Middelburg, toegesak het.

’n Veewagter is met ’n mes in die kop gesteek en sy vrou erg aangerand tydens die voorval by BW Boerdery. Die voorval het om ongeveer 20:00 plaasgevind.

Die rowers, waarvan twee met pistole gewapen was, het die beeswagter se huis binnegedring, waarna hulle die egpaar aangerand en gedreig het om sy vrou te verkrag.

Die verdagtes het die egpaar beroof van kontant, selfone en klere voordat hulle 45 merino en meatmaster-skape op ‘n trok gelaai het.

Die nommerplaat wat die naweek deur gemeenskapspolisiëringsgroepe rondgestuur is, is van ’n ander trok wat by ’n vulstasie op Stoffberg gesteel is.

’n Saak van roof en veediefstal word ondersoek.

Die eienaar van BW Boerdery, Leon Bosch, kon nie in die hande gekry word nie.

  • Janine Saayman van Die Daller het in Julie berig dat veediefstal geweldig toeneem. In Junie en Julie is daar reeds 73 beeste en 48 skape onder die Charlie Buurtwag-area (Bloempoortpad) gesteel.
  • Op 3 Augustus is ’n Toyota Fortuner in die Maserumele Park Village afgetrek. Nyaope en ’n luggeweer is gevind, asook 13 bokke, waarvan hul nie rekenskap kon gee nie. Drie verdagtes is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere, die besit van dwelms en onwettige besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Hulle het in die Nebo-landdroshof verskyn.
  • Op 11 Augustus is ’n 21-jarige man gearresteer vir die besit van 16 bokke en ses skape met brandmerke. Dié voorval het in die Rakgoadi-polisiëringsarea plaasgevind. Die verdagte is aangekla vir die besit van vermoedelike gesteelde goedere en het in die Motetema-landdroshof verskyn.
  • Op 19 Augustus is 68 bokke en 40 skape ter waarde van R320 000 in die Swartkop-area net buite Marble Hall gesteel.
  • Boere het al genoem dat hul oorweeg om veeboerdery op te gee. ’n Boer van die Loskop Vallei het gesê dat vier van sy 60 beeste geslag is en dat die risiko tans te groot is om voort te gaan met die boerdery. Sy boerdery is nie groot genoeg om hoë kostes aan te gaan om sy diere te beveilig nie.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button