Verslag oor plaasaanvalle: Verskeie faktore dryf geweld, sê Tuks-professor

AfriForum se ontleding van 47 gewelddadige plaasaanvalle en -moorde oor sewe jaar werp lig op die marteling van slagoffers, terwyl kenners sê dat daar nie net een motief vir die sinnelose geweld is nie. 

“Plaasaanvalle in Suid-Afrika kan nie aan een enkele motief toegeskryf word nie,” sê Christiaan Bezuidenhout, ’n professor in kriminologie aan die Universiteit van Pretoria.

Bezuidenhout se opmerking volg op die bekendstelling van ’n nuwe AfriForum-verslag vroeër vandag (15 September) waarin 47 gewelddadige plaasaanvalle en -moorde tussen 2019 en 2025 ontleed is. Die verslag fokus op spesifieke gevalle waarin daar aanduidings van marteling was.

AfriForum se verslag getiteld, More than robbery: Violence during attacks on farms and smallholdings in South Africa, 2019–2025, identifiseer volgens die organisasie ’n herhalende patroon van ernstige geweld en marteling.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, is die uiters gewelddadige aanvalle wat bestudeer is, nie net tot een deel van die land beperk nie. “Dié wrede aanvalle kom in elke provinsie voor en bevestig dat plaasaanvalle ’n nasionale landelike veiligheidsprobleem is wat ’n doelgerigte en gespesialiseerde reaksie vereis,” verduidelik hy.

Die verslag beskryf ’n reeks ernstige vorme van geweld tydens plaasaanvalle waarin aanvallers beide wapens wat hulle saambring en voorwerpe wat op die toneel gevind word, gebruik.

Messe, pangas, vuurwapens, koevoete en hamers word onder meer genoem, maar ook huishoudelike items soos strykysters, ketels met kookwater, staalpype en klippe. In sommige gevalle is slagoffers met elektriese koorde, tou of kleefband vasgebind, terwyl petrol en paraffien gebruik is om mense aan die brand te steek.

Verskeie van die slagoffers, wat in die verslag genoem word, het ernstige brandwonde, skedel- en gesigsbreuke opgedoen. Ander se kakebene of ledemate is gebreek.

Die verslag verwys ook na gevalle van verstikking, verwurging en pogings om slagoffers te verdrink. In sommige gevalle is slagoffers gedwing om giftige veedip te drink of hulle is van naby geskiet. Dit beskryf verder gevalle van seksuele aanranding, verminking en die amputasie van liggaamsdele.

Die vraag is egter wat sulke aanvalle dryf en waarom geweld in sommige gevalle tot sulke uiterstes eskaleer.

Volgens Bezuidenhout kan ’n kombinasie van faktore, waaronder geld en ander waardevolle goedere, wraak, armoede, politieke spanning en die isolasie van landelike gebiede, tot plaasaanvalle bydra.

Bezuidenhout wys daarop dat plaasaanvalle nie uniek aan Suid-Afrika is nie, maar dat die vlak van geweld en marteling wat volgens die verslag in sommige aanvalle voorkom, nie noodwendig ’n wêreldwye tendens is nie.

Professor Christiaan Bezuidenhout. Foto: Verskaf

Marteling en geweld

Broodryk sê dat van die aanvalle ure lank geduur het en waarin geweld voortgegaan het selfs nadat slagoffers nie meer weerstand gebied het nie. Hy voer aan dat die vlak van geweld in sulke gevalle veel meer was as wat nodig sou wees om ’n roof te pleeg.

Bezuidenhout beskryf dit as ‘gratuitous violence’, oftewel onnodige of buitensporige geweld.

Hy sê aanvallers wil beheer oor die situasie verkry. Wanneer ’n slagoffer weerstand bied, kan geweld gebruik word om slagoffers vinnig te onderwerp.

‘Pyn het oortuigingsvermoë,’ sê hy.

Volgens Bezuidenhout kan geweld aanvanklik gebruik word om beheer oor slagoffers te verkry en hulle te dwing om waardevolle items of inligting te oorhandig. Wanneer aanvallers egter reeds beheer het, kan opgehoopte frustrasie, woede en ’n gevoel van totale mag daartoe lei dat die geweld voortduur en eskaleer.

“Groepsdinamika kan dié gedrag verder versterk, omdat aanvallers mekaar se optrede kan aanmoedig en die gevoel van individuele verantwoordelikheid verloor.”

Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, sê dat wanneer die geweld voortduur nadat die aanvallers reeds beheer oorgeneem of hul buit gekry het, kan dit nie meer bloot as roof verklaar word nie.

“Dan kan dit ook gaan oor vernedering, wraak, die uitskakeling van getuies of die doelbewuste toediening van lyding.

“Ons moet versigtig wees om een motief aan elke aanval toe te skryf, maar die buitengewone brutaliteit in sommige van hierdie gevalle strek duidelik veel verder as wat nodig sou wees om bloot iets te steel.”

Politieke retoriek en ‘rassehaat’

Hoewel die verslag nie op politieke retoriek en ‘rassehaat’ fokus nie, doen Broodryk weereens ’n beroep op die regering en politieke leiers om opruiende en haatlike retoriek wat teen Suid-Afrika se boerderygemeenskappe gerig is – soos die ‘Kill the Boer’-dreunsang – onomwonde te veroordeel.

“Politieke leiers kan nie aanvoer dat hulle ernstig is oor die bekamping van geweld, maar swyg wanneer opruiende retoriek wat ’n spesifieke gemeenskap teiken, genormaliseer word nie,” sê Broodryk.

Bezuidenhout waarsku egter teen ’n eenvoudige verklaring waarin ras of politiek as van die redes vir plaasaanvalle voorgehou word.

Hy sê egter dat ernstige armoede en ongelykheid ’n omgewing kan skep waarin mense makliker kan glo dat ander mense se rykdom ten koste van hulle verkry is.

Politieke boodskappe oor grond en ongelykheid kan volgens hom hierdie persepsies verder versterk.

“Jy sien ’n boer met ’n trekker, hy plant elke jaar en ry in ’n nuwe voertuig rond. Jy bly in ’n plakkerskamp en het nie genoeg kos nie. Dit skep ’n sekere persepsie.”

Hy beklemtoon egter dat politieke spanning slegs een komponent van ’n veel groter prentjie is. “Ons kan nie net sê elke plaasaanval is polities gedrewe nie. Ons kan ook nie net sê dit is onregverdigheid, rassisme of weerwraak nie.”

’n Plaas as winsgewende teiken

Volgens Bezuidenhout moet die ekonomiese waarde van ’n plaas ook in ag geneem word.

’n Aanvaller kan volgens hom op een plek toegang kry tot kontant, voertuie, vuurwapens, elektroniese toerusting, selfone, kos, drank en ander waardevolle items.

Dit beteken egter nie dat elke plaasaanval deur georganiseerde misdaadgroepe gepleeg word nie. Hy onderskei tussen georganiseerde groepe en meer impulsiewe aanvalle. “Die impulsiewe aanvallers sal, byvoorbeeld, met ’n panga opdaag terwyl georganiseerde groepe vuurwapens het.”

Profiel van plaasaanvallers

“Daar is nie een profiel vir plaasaanvallers nie,” sê Bezuidenhout.

Volgens hom is die aanvallers in baie van die gevalle jong mans, gewoonlik tussen ongeveer 15 en 38 jaar oud. Baie is werkloos en het volgens hom nie matriek voltooi nie.

Aanvalle word ook dikwels deur groepe uitgevoer. Hy sê die aantal aanvallers kan wissel, maar dat groepe van vier tot agt mense nie ongewoon is nie.

Hy sê daar is ook bewyse dat sommige oortreders reeds by ander vorme van misdaad betrokke was voordat hulle by ernstige geweldsmisdade betrokke geraak het.

“Hoe meer hulle met sekere misdade wegkom, hoe makliker word dit vir hulle om ernstiger misdade te pleeg.”

Volgens Bezuidenhout moet daar nie bloot aanvaar moet word dat alle plaasaanvallers Suid-Afrikaners is nie. Buitelandse burgers kan volgens hom ook by plaasaanvalle betrokke wees, maar die omvang daarvan moet deur betroubare statistiek bepaal word.

Cameron meen egter dat beskikbare inligting ondersteun nie die gerug dat plaasaanvalle hoofsaaklik deur buitelanders gepleeg word nie. “In die mees bruikbare ontleding van arrestasies was die meerderheid verdagtes Suid-Afrikaners. Daar was wel burgers van onder meer Zimbabwe, Mosambiek en Lesotho onder die verdagtes.”

Volgens Cameron moet daar ook onderskei word tussen ’n buitelandse burger en ’n onwettige immigrant. “Die SAPS publiseer nie betroubare syfers oor hoeveel gearresteerde plaasaanvalverdagtes ongedokumenteerd in Suid-Afrika was nie. Dit sal onverantwoordelik wees om te beweer dat onwettige immigrante die dryfkrag agter plaasaanvalle is.”

Cameron glo dat die SAPS gereeld en deursigtig statistieke oor plaasaanvalle, slagoffers, verdagtes, nasionaliteit, moontlike motiewe, arrestasies en vervolgings moet publiseer.

“Sonder daardie inligting word die ruimte deur gerugte en politieke vertolkings gevul, terwyl die werklike probleem, die buitengewone geweld en swak aanspreeklikheid, onvoldoende aangespreek word.”

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button