Video: Bittereinders-leier doen aansoek om borg in Groblersdal
Francois van der Merwe staan tereg op klagtes van aanranding ná 'n voorval by die groep se protesaksie tydens 'n ander hofsaak.
Ten spyte van ’n stil oggend is die polisie gereed en die paaie na die Groblersdal-landdroshof afgesper vir die borgverskyning van Bittereinders-lid Francois van der Merwe.
Van der Merwe gaan ’n aansoek om borg bring na sy arrestasie in Groblersdal op 24 Januarie tydens die groep – wat volgens hulle webtuiste ‘ʼn pragmatiese beweging is vir die Afrikaner/Boer-gemeenskap’ – se protesaksie ter ondersteuning van honde-aanval beskuldigdes Piet Groenewald (63) en Stephan Greeff (27).
Van der Merwe staan tereg op klagtes van aanranding. Hy het op 25 Januarie die eerste keer verskyn, waarna die saak tot vandag uitgestel is.
Tydens sy arrestasie in Groblersdal is hy deur sewe polisielede en twee verkeersmanne grond toe gedwing, waar hy na bewering geskop en daar herhaaldelik op sy kop getrap is.
Daar word beweer dat hy bloot tussenbeide getree het toe polisie die bejaarde oud-burgemeester, Dries Olivier (76), rondgestamp het.
Hy is na sy arrestasie vir onder meer harsingskudding behandel in ’n staatshospitaal.
@middelburgobserver Paaie na Groblersdal Landdroshof afgesper vir borgverskyning van Bittereinder, Francois van der Merwe. #Groblersdal #Court #Bittereinder ♬ original sound – MiddelburgObserver
Vorige saak
Van der Merwe het al voorheen met die gereg gebots ná ‘n insident by ‘n kroeg in Capital Park, Pretoria.
Pretoria Rekord berig die slagoffer in dié voorval is na bewering oor die kop geslaan, glo deur Van der Merwe, met ’n 450ml-brandewynbottel en moes die aand na middernag hospitaal toe gaan om steke te kry.
Die voorval het in die Moot op 2 Desember 2023 plaasgevind en Van der Merwe het 29 Januarie in Pretoria in die landdroshof op ’n klag van aanranding verskyn.
Die slagoffer, wat anoniem wil bly, het op die dag gesê dat hy die aanklaer versoek het om die saak terug te trek.
“Ek voel dat hy sy les geleer het met die voorval en nie weer sy hande in ’n kroeg sal lig nie. Ek hoop ook hy het geleer dat geweld nie ’n oplossing vir alle probleme is nie,” het die slagoffer gesê.
Read original story on www.citizen.co.za