Groblersdal-saak: Ministers, betogings en nóg ‘n week agter tralies

Hier is 'n samevatting oor die gebeure tydens die borgaansoek van Piet Groenewald (63) en Stephan Greeff (27).

Bheki Cele en Ronald Lamola – die Ministers van onderskeidelik Polisie, en Justisie en Korrektiewe Dienste – is van die politici wat na Groblersdal opgeruk het waar Piet Groenewald (63) en Stephan Greeff (27) vandag verskyn het op klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Hulle borgaansoek is tot 7 Februarie uitgestel want die landdros soek meer inligting van beide die staat en verdediging voordat uitspraak gelewer word. Dit sal die mans se derde volle week in aanhouding wees op die skedule een misdryf.

Die insident

Groenewald en sy stiefseun Greeff is op 18 Januarie in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ’n hond op ’n werknemer losgelaat het. Daar word ook beweer dat Veneruru Kavari (30) met ’n bylhandvatsel aangerand en met ’n onbekende vloeistof ingespuit is.

Kavari (30), ’n werknemer van Wildlife Investigation and Protection Services (Wips), was glo onder die invloed van drank – en gewapen met ’n panga.

Verklaring

In Groenewald se verklaring sê hy dat die beweerde slagoffer met ’n panga en piksteel by die Wips-kantore op Groenewald se plaas opgedaag het, nadat hy vroeër berispe is vir alkoholmisbruik aan diens.

Die wag was net vyf dae in diens van die sekureiteitsonderneming voordat hy glo besope vir werk opgedaag het. Die slagoffer het, volgens die verklaring, die piksteel na Groenewald gegooi, maar ’n hond in die proses getref.

Groenewald het die piksteel opgetel en na die wag, wie steeds met die panga gewapen was, gestap.

Volgens Groenewald het ’n opgeleide sekuriteitshond, wat deur Greeff hanteer is, losgebreek en die wag toe aan die onderbene gebyt.
Daar word beweer hy het oppervlakkige bytwonde opgedoen waarna Greeff hom ’n klem-in-die-kaak inspuiting toegedien het.

Die wag is vir behandeling geneem waartydens die wonde skoongemaak en verbind is. Hy het glo nie vir opvolg behandeling opgedaag nie.

‘Chaos’ en ministers by die hof

Middelburg Observer-joernalis in die hof, Janine Saayman, sê dis ‘absolute chaos’.

Verskeie politici is by die klein hofgebou ingedruk waar familielede en talle joernaliste van mediahuise die twee beskuldigdes se borgaansoek gevolg het.

Groenewald en Greeff het op 24 Januarie die eerste keer verskyn waar borg deur die staat teengestaan is.

Buite die hof het honderde ondersteuners van veral die ANC gesing en gedans.

@middelburgobserver WIPS honde-aanval saak: Honderde ondersteuners betogg in Groblersdal se strate waar Piet Groenewald en Stephan Greeff verskyn vir borgaansoek. #Groblersdal #WIPS #Groblersdallanddroshof #Hof #borg ♬ original sound – MiddelburgObserver

Die ondersoekbeampte in die saak, Konstabel Grigory Maleasenya, het vandag getuig. Hy het tydens ondervraging genoem dat beide in aanhouding moet bly omdat ander werknemers van Groenewald se Wips vrees vir hulle werk en lewens, ‘omdat hulle getuies is’.

Die getuies waaroor die ondersoekbeampte egter getuig, is nie bekend aan die beskuldigdes nie.

Die ondersoekbeampte hou ook vol dat Groenewald en Greeff self in gevaar is en veiliger agter tralies sal wees.

AfriForum kap na ‘onbetroubare’ aanklaers, landdroste

Middelburg Observer berig Lamola het vroeër ’n memorandum van verstandhouding onderteken wat deur AfriForum oorhandig is.

Daar word gevra vir ’n gemeenskapvergadering met Groblersdal se aanklaers en landdroste, wat die burgerregte-organisasie meen deur die gemeenskap wantrou word.

Volgens die memorandum het die gemeenskap AfriForum genader weens toenemende misdaad in Groblersdal, wat die burgerregte-organisasie genoop het om ’n tak op die dorp op die been te bring.

In die memorandum dring hulle aan op ’n gemeenskapsvergadering binne die volgende twee maande, en eis dat aanklaers en landdroste ook met ’n aksieplan vorendag sal kom, om die groeiende misdaadprobleem aan te spreek.

“Die mense van Groblersdal is nie oortuig dat die landdroshof reg funksioneer nie,” lui die skrywe wat deur Lamola onderteken is.

Volgens AfriForum word inwoners gereeld omgeboul deur hofbesluite, en heers daar ’n algemene gevoel dat die howe nie effektief verdere misdaad voorkom nie.

“Lagwekkende verskonings” word volgens die organisasie opgedis vir gebrekkige hofbesluite, wat vertroue in die Limpopo-regstelsel verder wegkalwe.

Lamola het nie dadelik op die memorandum se bewerings gereageer nie.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button