Video: Plante in slaggate – Pretoria inwoners protesteer teen paaie se agteruitgang
Inwoners hoop om die Tswhane metro se aandag te rig op die agteruitgang van paaie se toestande.
‘n Groep inwoners in Pretoria-Noord het besluit hulle is klaar met wag dat die Tshwane munisipaliteit slaggate in hul woonbuurte herstel, hulle plant hou plante daarin om protes aan te teken en om gate meer sigbaar in die nag te maak.
DA-stadsraadslid Quentin Meyer het ’n dringende appèl gerig aan Tshwane se burgemeester, dr. Nasiphi Moya, om aksie te neem oor die meer as 150 slaggate wat in Montana, Sinoville, Doornpoort en Wonderboom gerapporteer is.
In ’n brief aan Moya, noem Meyer dat die inwoners van hierdie gebiede ‘drastiese aksie’ geneem het om hul frustrasie uit te druk.
Kyk ‘n video van hoe plante in slaggate geplant word hier:
Plante trek hopelik munisipaliteit se aandag
In verskeie slaggate het inwoners plante geplant om ’n ‘sterk stelling’ te maak, aangesien hulle sê daar geen aandag geskenk word aan hul herhaalde versoeke nie.
“Ons het ons aansoeke geëskaleer, gerapporteer, e-posse gestuur en elke kanaal tot ons beskikking gevolg, maar niks het verander nie. Geen sigbare aksie nie. Geen langtermyn-oplossing nie. Geen afdwinging van aanspreeklikheid nie,” sê Meyer in sy brief aan die burgemeester.
Meyer het self die voorbeeld gestel deur ’n aalwyn in ’n slaggat op die hoek van Jan van Riebeeck- en Generaal de Wetstrate in Pretoria-Noord te plant.
Hy beklemtoon dat die situasie uiters dringend is en dat inwoners sat is van die gebrek aan aksie.

Inwoners moedeloos oor verbrokkelde paaie
Volgens Meyer het die onlangse reën die slaggate nóg gevaarliker gemaak, veral in die nag wanneer dit moeilik is om hulle te sien.
“Só ’n gat met ’n plant in staan dan net dalk meer uit en kan mens dit vermy,” voeg hy by.
Hy erken dat van die plante reeds doodgery is en ander verlep het, maar dit is nie die punt nie.
“Dis die idee wat tel. Ons wil bewusmaking skep en ’n stelling maak,” sê Meyer.
Hy sê verder dat die inwoners deur hierdie aksie, die metro se aandag wil vestig op hul moedeloosheid rakende die toestand van die paaie.
“Ons leef in onaanvaarbare omstandighede. Die paaie verkrummel onder ons. Ons frustrasie het sy limiet bereik. Elke dag bars iemand se band. Elke dag breek veerstelsels. Ons betaal elke dag vir die metro se gebrek aan optrede uit ons eie sakke,” sê hy.
Meyer het die burgemeester herinner aan die voorgestelde begroting vir 2025/26, waarin daar wel geld begroot is vir die herstel van slaggate.
“Kom ons hoop dat dit ook in Pretoria-Noord aangewend sal word.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za