Video: Skokonthullings plaas Middelburg hospitaal in die visier
'n Pasiënt deel die oomblikke waar sy glo in die provinsiale hospitaal vasgemaak en aangerand is, vermoedelik deur sekerheidspersoneel.
‘n Jong vrou van Middelburg in Mpumalanga herleef die riller-oomblikke waar sy vasgemaak was aan ’n hospitaalbed en aangerand is in die provinsiale hospitaal.
“Hulle het my in ’n hoek vasgedruk en met die vuis geslaan. Daarna het hulle my soos ’n skaap aan my arms en bene na die bed gedra en my vasgemaak,” vertel Chrizelda Blom (24).
’n Video wat ’n pasiënt se familie geneem het waar Blom vertel van die aanranding, versprei tans soos ’n veldbrand op sosiale media.
Sy het besluit om haar volle verhaal aan Middelburg Observer te vertel, ‘want ek gaan dit nie hier los nie! Ek sal nooit weer na ’n hospitaal toe gaan nie, want ek is te bang!’.
Blom sê sy is verlede Dinsdag in die Middelburg hospitaal opgeneem.
“Toe ek die eerste oggend, na my opname, wakker word, het ek kaal in my bed gelê met net ’n doek aan en ’n kateter in. Ek was ook vasgemaak.”
Sy was paniekerig en het om hulp geroep, waarna personeel haar glo losgemaak het.
Blom sê aangesien sy dae-lank gewag het vir ‘n dokter en bedags niks gehad het om te doen nie ‘en omdat die susters nooit my suiker, bloeddruk of enigiets anders gevat het nie’ het sy begin geselsies aanknoop met van die pasiënte.
Sy het ook van die siekes probeer help met klein takies.
Blom sê die personeel was vies vir haar omdat sy vir die dokter, wat haar uiteindelik kom besoek het, gesê het dat die personeel geen aandag aan haar gee nie.
“Hulle het vir my gevra hoekom ek vir die dokter jok, waarop ek vir hulle gesê het, ‘ek jok nie, ek praat die waarheid!’”
Sondagoggend het een van die pasiënte, met wie sy bevriend geraak het, erg naar geword. “Die personeel het nie vir haar ’n bak gebring nie en ek het ’n bak en ‘n mop gaan haal, want sy het op die vloer opgegooi.”
Terwyl sy die vloer skoongemaak het, het ’n verpleegster vir haar gesê sy moet die bak en mop gaan bêre, want dit is nie haar werk om dit te doen nie.
“Ek het vir haar gesê ek sal die mop gaan bêre, maar ek kan nie die bak wegvat nie, want die pasiënt gooi nog op. Sy het vir my geskree: ‘You must not have a attitude with us!’”
Blom was baie ontsteld en wou ’n rukkie buite gaan sit. “By die deur het die sekuriteitsvrou vir my geskree: ‘Back up, back up!’ Nog een het bygekom, my in die hoek vasgedruk en my met die vuis geslaan.”
Volgens haar was sy baie ontsteld en het saam met ’n suster geloop tot by die rokers-area om rustig te probeer raak. Sy was net ’n klein rukkie daar, toe omtrent 10 sekuriteitslede (mans en vroue) glo op haar afgestorm het.
“Hulle het my daar kom haal en kamer toe gedra. Terwyl hulle my gedra het, het hulle my in die rug geskop,” vertel sy en noem dat sy in die kamer met gordels aan die bed vasgemaak is. Sy onthou dat hulle haar ook met die gordels geslaan het.

“Hulle het my aan die nek beetgekry en gewurg en my ook in my gesig en in my maag geslaan. Die verpleegster wat wou help, is eenkant toe gedruk.”
Na die beweerde aanranding, het hulle haar vasgemaak aan die bed gelos.
“Ek kon nie asem kry nie en het ’n angsaanval gekry, waarop ’n suster vir my suurstof gegee het.”
Blom sê dié gebeure het voordat die oggendpap omstreeks 09:00 gebring is, afgespeel.
“Hulle het my daar vasgemaak aan die bed gelos, totdat die dokter my omstreeks 16:00 kom losmaak het. Ek het ’n skoonmaker op ’n stadium gevra om vir my ’n bedpan te bring sodat ek net kon piepie.”
Terwyl sy daar gelê het, het ’n vrou ingestap gekom en glo ‘jammer’ gesê. Blom vermoed die vrou is deel van die sekuriteitsfirma. “Sy het egter nie gesê waarvoor sy sorry is nie.”

Blom het gesien haar selfoon is ook stukkend (sy weet nie of dit tydens die beweerde aanranding geval en gebreek het nie) en sy het met ander pasiënte se fone haar man, Jonathan, gebel en gepleit dat hy haar kom haal.
“Hulle wou nie eers hê ek moes haar gaan haal of uitteken nie. Hulle het net gesê hulle sal haar laat gaan sodra sy die sielkundige gesien het! So sy is boonop teen haar wil daar aangehou!” het Jonathan omgekrap gesê.
Die egpaar het nie ’n kar nie en hy wou met ’n geleentheid haar gaan haal.
Blom het aanmekaar gesmeek dat sy wil huis toe gaan en hulle het beloof dat sy ’n sielkundige sou gaan sien, maar die personeel en sekuriteit wou haar nie laat gaan nie.
Teen Maandag het ’n dokter haar ’n sielkundige laat sien en nadat sy ook by hom gesmeek het, kon sy uiteindelik huis toe gaan.
“Dit gaan verskriklik in daardie hospitaal. Die susters sit bedags en is besig met administratiewe werk, met ’n groot sak lekkers tussen hulle!”
• Jonathan sê sy vrou is geweldig getraumatiseer en dat hulle met hulle tuiskoms Maandag dadelik na die Hendrina-polisie toe is. “Die polisie op Hendrina het egter gesê dat as ons ’n saak wil open, ons dit in Middelburg moet doen.”
• Christopher Nobela, die provinsiale woordvoerder van die Departement van Gesondheid, het gesê dat hulle die beweerde aanranding ondersoek.
• Raadslid Deon van der Merwe het dit ook reeds aan die Wetgewer gestuur en gesê dat hulle die kwessie sal ‘verder vat’.
Kyk die video:
Read original story on www.citizen.co.za