[Video] Sitstaking by Gold One-myn: Rillerverhale van mishandeling toe myners ondergrond was
In ’n onderhoud op Nuuspod sê Solidariteit se woordvoerder dat van hulle lede as gyselaars aangehou, aangerand en verneder is.
’n Voorval by Implats se Bafokeng Rasimone-platinummyn naby Rustenburg in die Noordwes, waar meer as 2 200 mynwerkers tans in ’n ondergrondse staking betrokke is, het die fokus weer op dié nuwe tendens geplaas.
Implats het in ’n verklaring gesê dat talle van die mynwerkers tans teen hulle wil ondergronds aangehou word.
Daar is ná ’n soortgelyke staking by Gold One-myn se Modder Oos-mynskag in Springs rillerverhale vertel nadat die meer as 400 mynwerkers glo vanaf 7 tot 11 Desember as gyselaars aangehou is.
Die vakbond Solidariteit eis dat Gold One en die polisie teen die skuldiges moet optree nadat dit aan die lig gekom het dat van die mynwerkers aangerand en verneder is. Van die mans moes ná die tyd mediese behandeling kry, beweer hy.
Nuuspod se Izak van Zyl het met Solidariteit se woordvoerder, Pieter Jordaan, gesels oor wat die vakbond se lede ervaar het terwyl hulle ondergronds aangehou is.
Jordaan, wat persoonlike onderhoude met van die mynwerkers gevoer het, is van mening dat die voorval eerder as misdaad geklassifeer moet word en nie bloot ’n arbeidsgeskil genoem kan word nie. “As hierdie by ’n supermark gebeur het en werkers teen hulle wil aangehou is, sou die polisie ingegryp het,” sê hy.
Hy vertel hoe een mynwerker na bewering gedwing is om kaal te dans en ‘Viva Amcu!’ te skree, en dan geslaan word wanneer hy probeer ophou.
Kyk na die volledige onderhoud hier:
Read original story on www.citizen.co.za