Video’s: Duisende SA-mans verruil kantoorpakke vir pers Speedo’s in ‘drafstap teen kanker’
Mans het hul inhibisies verloor en 5 km-roetes regoor die land aangedurf om die kollig op prostaat- en testikulêre kanker te plaas.
Duisende mans het gister (23 Oktober) hul gewone hardloopklere vir pers Speedo’s verruil om bewustheid van prostaat- en testikulêre kanker te verhoog.
Die jaarlikse Hollard Daredevil Run het vanjaar sy 17de bestaansjaar gevier en mans van Johannesburg tot by Plettenbergbaai in die Wes-Kaap het aan die 5 km-hardloop- en stapgeleentheid deelgeneem.
Die hoofbyeenkoms het by Zoo Lake in Johannesburg plaasgevind, terwyl kleiner byeenkomste in onder meer Potchefstroom, Pinetown, die Vaaldriekhoek en Plettenbergbaai gehou is.
Die pers Speedo’s en die humoristiese aanslag is deel van die veldtog se aantrekkingskrag, maar agter die persskouspel is die doel ernstiger: Om mans aan te moedig om oor kanker te praat, hul risiko te verstaan en nie mediese ondersoeke uit te stel nie.
Die veldtog se slagspreuk, ‘Lekker balls, lekker life’, help om die aandag te vestig op ’n onderwerp waaroor mans nie graag wil praat nie.
Die sanger Tobi Jooste en mooimaakman, Hannon Bothma, was twee van die drawwers wat nie skaam was om lyf te wys by die Zoo Lake-geleentheid nie.
Net voor die drawwery om 15:00 afgeskop het, het Jooste en Bothma vinnig met Caxton Network News gesels.
Oefenmaniakke
Beide is oefenmaniakke en hulle lywe is goed gevorm en sonbruin. Maar Jooste sê dié geleentheid gaan nie oor spiere bulte en om lywe uit te stal nie.
“Ek en Hannon het ons vriende in die vermaakbedryf aangemoedig om deel te neem, maar hulle was té selfbewus om saam met ons te draf. Hulle antwoorde was dat hulle lywe ‘nog nie reg is nie’.
Jooste vind dit onaanvaarbaar. “Mans van alle groottes en vorms het deelgeneem. Oorgewig en maer. Boepense en sespakke. Ooms met kieries en jong mense.’’
Kyk na die Zoolake-geleentheid hier:
“Ek was verbaas oor die aantal jonger kinders en tieners wat ook vir die goeie doel gedraf het,’’ het Bothma gesê.
Dit is die tweede keer wat Jooste vir kanker draf. Bothma het al sewentien keer sy langbroek vir ’n pers Speedo verruil.
“My oupa is aan prostaatkanker oorlede. Ek draf vandag vir hom,” het Jooste gesê.
Jooste se oupa aan moederskant is aan kolonkanker oorlede.
Bothma se pa is ook met prostaatkanker gediagnoseer.
Jooste het gesê dat hy jaarliks vir volledige bloedtoetse gaan. “As dit vroeg opgespoor word, met slegs ’n vingerprik of bloedtoets, is die herstelkoers 98%.”
Die 5km-roete moet binne twee ure afgelê word. Die drawwers, ongeveer 5 000, het deur Johannesburg se luukse voorstede soos Saxonworld gedraf.
“Die vroue het langs die pad gestaan en die manne met wolwefluite aangemoedig,’’ het Jooste gelag. “Baie mans het ons ook gestop om geselsies aan te knoop, maar ons het tog daarin geslaag om die roete binne ’n uur te voltooi.
Broederskap in pers Speedo’s
In Potchefstroom het sowat 200 mans in pers Speedo’s en pers lyfverf by Modderdamweg bymekaargekom vir die plaaslike paddraf wat by Pad.langs Koffiestop aangebied is. Gordon Peddie het die geleentheid gekoördineer, berig Potchefstroom Herald.


In Westville in Pinetown in KZN, het sowat 40 leerders van Westville Boys’ High School deelgeneem. Volgens die skool se afrigter, Rogan Comins, was dit die vierde jaar dat die skool die veldtog ondersteun, berig Highway Mail.
Comins het gesê die geleentheid bied ’n kans om jong mans reeds vroeg oor kankerbewusmaking en die belangrikheid van vroeë opsporing in te lig.

’n Graad 10-leerder Daniel McDermid het gesê sy oupa se kankerdiagnose het hom persoonlik by die saak betrokke laat voel. “Dit is ’n uitstekende geleentheid om bewusmaking oor alle soorte kanker en die gevare daaraan verbonde te bevorder,” het hy gesê.
In die Laeveld het die mans skaamteloos boepense geskud. Die video’s en foto’s van die geleentheid wat in Mbombela (Nelspruit) gehou is, het binne ’n paar uur 1 miljoen unieke kyke gekry, berig die Laevelder. Die video’s het ten tyde van publikasie meer as 2.3 miljoen unieke kyke gekry.
Kyk hier hoe die manne in die Laeveld drafstap:
Geld vir sifting en ondersteuning
Die Daredevil Run samel geld in vir die Kankervereniging van Suid-Afrika en die Prostate Cancer Foundation of South Africa. Die opbrengs ondersteun onder meer bewusmakingsveldtogte, prostaatspesifieke antigeen- (PSA-) siftingstoetse en hulp aan pasiënte.
Die 2025-geleentheid het R1,2 miljoen vir die twee organisasies ingesamel.
Volgens Andrew Oberholzer, uitvoerende hoof van die Prostate Cancer Foundation of South Africa, is die jaarlikse skenking die organisasie se grootste enkele skenking, berig die Vaalweekblad.
Dit help om gratis PSA-siftingsprogramme landwyd aan die gang te hou en betroubare inligting oor prostaatkanker in verskillende tale beskikbaar te stel.

Die fondse dra ook by tot programme wat mans help om hul risiko te verstaan en mediese advies te kry.
Waarom vroeë opsporing saak maak
Prostaatkanker is een van die grootste kankerbedreigings vir Suid-Afrikaanse mans. Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Kankerregister is 10 761 gevalle in 2024 bevestig. CANSA skat dat ongeveer een uit elke 17 mans in die land die siekte gedurende sy leeftyd sal ontwikkel.
Die risiko verskil egter tussen bevolkingsgroepe. Die Prostate Cancer Foundation waarsku dat swart Suid-Afrikaanse mans ’n besonder hoë risiko het en dat bewustheid en toegang tot sifting daarom belangrik is.
Vroeë prostaatkanker veroorsaak dikwels geen simptome nie. ’n PSA-bloedtoets kan help om moontlike probleme te identifiseer, hoewel die toets nie op sy eie kanker bevestig nie.
Mans behoort met ’n gesondheidswerker oor hul persoonlike risiko en die voor- en nadele van sifting te gesels, veral as daar ’n familiegeskiedenis van prostaatkanker is.
Testikulêre kanker is minder algemeen, maar raak dikwels jonger mans. Volgens die 2024-kankerregister is 198 gevalle aangeteken. Die siekte kan dikwels suksesvol behandel word wanneer dit vroeg opgespoor word.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za