News

Prostaatkanker steeds ’n groot bedreiging vir mans in Suid-Afrika

Prostaatkanker is wêreldwyd 'n realiteit.

Volgens Globocan, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se gespesialiseerde agentskap vir kankernavorsing, is prostaatkanker tans die algemeenste kanker in Suid-Afrika. Dit is ook die tweede grootste oorsaak van kankersterftes onder Suid-Afrikaanse mans, ná longkanker.

“Ten spyte hiervan is mense se kennis van prostaatkanker in Suid-Afrika kommerwekkend laag,” sê Andrew Oberholzer, uitvoerende hoof van die Prostate Cancer Foundation.

“Dit is veral kommerwekkend as ’n mens kyk na die risiko waaraan Suid-Afrikaanse mans blootgestel word. Een uit elke vier swart mans en een uit elke agt wit mans sal in hul leeftyd met prostaatkanker gediagnoseer word. Swart Afrikane het ’n 60% groter risiko om prostaatkanker te ontwikkel as wit mans, en is 2,5 keer meer geneig om aan die siekte te sterf,” verduidelik Oberholzer.

Wat dit nog meer kommerwekkend maak, is dat swart Afrikane ’n groter kans het om ’n aggressiewe vorm van prostaatkanker te ontwikkel as swart Amerikaners.

“Navorsingstudies regoor Afrika probeer vasstel watter genetiese faktore moontlik hierdie verhoogde risiko kan verklaar,” sê Oberholzer.

Prostaatkanker begin in die prostaat, ’n klein klier by mans wat net onder die blaas geleë is.

Vroeë prostaatkanker veroorsaak gewoonlik geen simptome nie. Daarom is siftingstoetse so belangrik om die kanker vroeg op te spoor.

Simptome van gevorderde prostaatkanker kan insluit probleme met urinering, bloed in die urine of semen, erektiele disfunksie, beenpyn, swakheid of gevoelloosheid in die bene of voete, onverklaarbare gewigsverlies en aanhoudende moegheid.

Prostaatkanker kom selde by mans jonger as 40 voor, maar die risiko neem toe namate mans ouer word. Mans wie se naasbestaandes, veral hul pa of broer, prostaatkanker gehad het, se risiko is aansienlik groter. Hoe jonger die familielid was toe die kanker gediagnoseer is, hoe groter is die risiko.

’n Familiegeskiedenis van borskanker hou ook verband met ’n verhoogde risiko vir prostaatkanker. Oorgeërfde genetiese faktore speel na raming ’n rol by tot 57% van ’n man se vatbaarheid vir die siekte.

Wanneer prostaatkanker vroeg opgespoor en behandel word, voordat dit buite die prostaat versprei het, leef meer as 99% van mans steeds vyf jaar ná hul diagnose.

Prostaatspesifieke antigeen (PSA) is ’n proteïen wat deur die prostaat vervaardig word. ’n Eenvoudige bloedtoets kan die PSA-vlak meet en help om prostaatkanker vroeg op te spoor.

Bewusmakingsinisiatiewe soos die jaarlikse Hollard Daredevil Run speel ’n belangrike rol om meer Suid-Afrikaanse mans aan te moedig om oor prostaatkanker te praat en hulself te laat toets.

Die geld wat met die Hollard Daredevil Run ingesamel word, ondersteun die werk van die Prostate Cancer Foundation en die Kankervereniging van Suid-Afrika (CANSA). Die wedloop vind vanjaar op 23 Oktober plaas.

Die fondse help om mense meer bewus te maak van prostaat- en testikulêre kanker en om PSA-siftingstoetse beskikbaar te stel aan gemeenskappe waar toegang daartoe steeds beperk is.

Vir meer inligting en om vir die 2026 Hollard Daredevil Run in te skryf, besoek https://www.hollard.co.za/daredevilrun.

Vir meer inligting oor prostaatkanker, besoek https://prostate-ca.co.za/ of https://cansa.org.za/prostate-cancer/

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button