Wat word nie op ‘n matrieksertifikaat genoem nie?

Weet ons matrikulante wat die waarde van integriteit is? Verstaan hulle wat dit behels? Dis ‘n skaars kwaliteit van onskatbare waarde.

Matrikulante en hulle uitslae is uit verskillende oogpunte ontleed, en positiewe en negatiewe kommentaar is gelewer, skryf skoolhoof van Hoërskool Bastion, dr Anton Prinsloo.

Kom ons kyk kortliks na die vaardighede van ons matrieks waarvoor daar nie op die sertifikaat punte toegeken is nie. Ons glo aan die bou van ‘n gesonde waardesisteem wat, ongeag die simbole op die matrieksertifikaat, deel van hulle loopbaanbou moet wees.

Baie matrieks se waardesisteem het reeds ‘n stempel op hulle matriekprestasie afgedruk. Ons wil tien basiese waardes uitlig waardeur ons as ouers en skoolgemeenskap, as ons hande vat, ‘n verskil kan maak.

• Het ons die beginsel van stiptelikheid in die bywoning en uitvoering van pligte genoeg beklemtoon?

• Verstaan hulle die waarde van sinvolle tydsbestuur deur eenvoudige dagboekaantekeninge, ‘n dagprogram, ensovoorts?

• Het ons daarin geslaag om die liefde en behoefte aan lees vas te lê? Hierdie vaardigheid bly hulle lewenslank by.

• Verstaan ons matrikulante dat harde werk nie met die laaste vraestel ophou nie? Werk met ‘n passie bly die sleutel tot sukses in enige beroep of studieveld.

• Is ons jong mense dankbaar vir wat hulle het, vir wie en wat hulle is? Toon hulle reeds tekens van selfsug, slegs eie belang, genadelose trap op ander om bo uit te kom?

• Het die skool hulle geleer om die beste van elke talent te maak? Het hulle selfbeeld dalk ‘n knou gekry deur oormatige klem op sekere vaardighede byvoorbeeld sport, leierskap ensovoorts?

• Taalgebruik is deel van eerste indrukke. Hoe kommunikeer ons matrikulante in verskillende situasies en met gesagsfigure?

• Wat het hulle geleer van riglyne vir ‘n gelukkige huwelik en ondersteunende ouerskap? Vir so baie ontbreek positiewe rolmodelle.

• Weet ons matrikulante wat die waarde van integriteit is? Verstaan hulle wat dit behels? Dis ‘n skaars kwaliteit van onskatbare waarde.

• Mag elke matrikulant onthou dat hoop genoeg motivering verskaf om die beste van elke situasie te maak! Mag moedverloor nooit deel van hulle daad en woord wees nie!

As ouers, skole en die wyer gemeenskap aan hierdie waardes bou en dit as die uiteindelike doelwitte stel, werk ons aan ‘n wen-wen situasie.

Deel met ons hoe u wil bydra tot die bereiking van hierdie waarde-doelwitte deur ‘n epos te stuur aan draprinsloo@iafrica.com of jeanetta@lubbe.co.za.

Read original story on krugersdorpnews.beta.caxtondsp.co.za

Back to top button