Wes-Kaapse vrou geskok met kragkabels, verkrag: Kêrel in hof
‘n Vrou is met water natgemaak, geskok met kragkabels, verkrag en met ‘n besem aangerand – na bewering deur haar kêrel.
’n Sewe-en-dertigjarige vrou is in die linker helfte van haar lyf gedeeltelik verlam ná sy verkrag en aangerand is, glo deur haar kêrel (36).
George Herald berig die slagoffer en verdagte was na wat verneem word in ’n verhouding en het saam gewoon ten tye van die voorval.
Volgens Sersant Lauriane Botha, ‘n woordvoerder vir die Groot-Brakrivier-polisie, het die voorval op 12 Oktober in die Jonkersberg-omgewing plaasgevind.
Botha sê die verdagte het glo by die huis aangekom en die slagoffer daarvan beskuldig dat sy op hom verneuk het, wat sy glo ontken het.
’n Argument het ontstaan, waarna hy haar na bewering met water natgemaak het, met oop kragkabels waaraan ’n gloeilamp gekoppel is geskok het, haar verkrag het en met ’n besem aangerand het.
Die slagoffer beweer ook hy wou haar ophang en doodmaak.
Volgens Botha word die slagoffer glo al jare lank deur die verdagte mishandel.
Botha sê die slagoffer se ma het die volgende dag op haar afgekom ná die verdagte werk toe is. Sy is in die George-hospitaal opgeneem en is vroeër vandeesweek ontslaan. Die presiese omvang van haar beserings is nog nie bekend nie. Dit is in hierdie stadium ook nie bekend of haar verlamming permanent of tydelik is nie.
Botha sê die polisie het verlede Vrydag inligting oor die voorval ontvang en het die verdagte dieselfde dag gearresteer.
Die saak word deur Adjudant-Offisier Soretha van Zyl van Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek.
Die verdagte het Maandag in die Mosselbaai-landdroshof verskyn, waarna die saak na Groot-Brak se landdroshof geskuif is. Hiér het hy Dinsdag sy tweede verskyning gemaak. Hy staan tans tereg op aanklagte van poging tot moord, verkragting en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Nog aanklagte kan moontlik bygevoeg word.
Ná die verdagte aangedui het hy wil vir regshulp aansoek doen, is sy saak na 4 November uitgestel vir sy borgaansoek om plaas te vind. Hy bly in aanhouding.
*Omdat een van die aanklagte van ’n seksuele aard is, mag die verdagte se identiteit nie bekendgemaak word tot hy pleit nie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.georgeherald.com