Network Sport

Meyerton se Bornman-broers gaan spiere bult by armdruktoernooi in Amerika

Riekerd Bornman pak Saterdag in New Jersey vir Aleksandr ‘Schoolboy’ Beziazykov, terwyl sy jonger broer, Duvan, in die voorprogram deelneem.

Suid-Afrika se armdruk-sensasie Riekerd Bornman van Meyerton is gereed vir een van die grootste uitdagings van sy jong loopbaan: East vs West 21 in Atlantic City in New Jersey op Saterdag.

Volgens Vaalweekblad het Riekerd op 15 November sy oorheersing in Suid-Afrika bevestig tydens die Zambesi Golden-armdrukkompetisie in Klerksdorp, waar hy Koos Fourie in beide regter- en linkerhandgevegte geklop het.

Nou is hy gereed om homself op die internasionale verhoog te bewys ná drie jaar in Australië, waar hy AWE-kampioen geword het.

By East vs West 21 sal Riekerd sy regterarm teen Aleksandr ‘Schoolboy’ Beziazykov in die superswaargewig-afdeling (115kg+) toets, ’n kragmeting waarvan hy al droom sedert hy Wallace Dilley in sy eerste East vs West-kragmeting geklop het.

Onlangs het hy ook die Oekraïense armdrukker Pavlo Derbedyenyev by East vs West verslaan, wat sy internasionale reputasie verder versterk.

Duvan en Riekerd Bornman tydens die Zambesi in November. Foto: Verskaf

Sy jonger broer, Duvan (17), wat tans nog ’n leerder by Hoërskool Dr. Malan is – dieselfde skool waar Riekerd vroeër skoolgegaan het – het in Klerksdorp met sy regterhand gewen en sal nou by East vs West in die voorprogram deelneem om sy vlak teen van die wêreld se beste armdrukkers te toets.

Riekerd, wat op 22-jarige ouderdom 1.91m lank is, is van mening dat Duvan, met sy huidige groei en ontwikkeling, dalk selfs groter en sterker as hyself kan word in die toekoms.

Riekerd skryf sy sukses toe aan goeie gene van hul pa, Duval, ’n groot en sterk man.

Die Bornman-broers se talent en vasberadenheid het van hulle Suid-Afrika se top armdrukfamilie gemaak, en hulle vertonings in Klerksdorp het bevestig dat hulle gereed is om teen die wêreld se beste mee te ding.

Aanhangers wag in spanning om te sien hoe hierdie jong armdrukkers in Amerika hulle merk op die internasionale armdrukverhoog probeer maak.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za

Related Articles

Back to top button