Plaaslike Produksie geskiet in Centurion

Stefan Nieuwoudt se nuutste film, Bakgat 3, is op Eldoraigne-inwoners se drumpel geskiet.

Sy onlangse flieks het skaars op die silwerdoek verskyn en hy is alreeds weer besig met vier nuwe films.

Stefan Nieuwoudt se nuutste film, Bakgat 3, het verlede maand in die teaters begin draai, maar intussen het hy Suid-Afrika se eerste Afrikaanse spioenasiefilm vir kinders op Eldoraigne-inwoners se drumpel geskiet.

Agent 2000 is gebaseer op Nieuwoudt se gunsteling films soos Mission Impossible en die reeks James Bond-films. In hierdie verhaal is ‘n 14-jarige seun, genaamd Agent 2000, oftewel Walter du Toit, gevra om die boelie in Hoërskool Saamstaan uit te snuffel. Met die nuutste tegnologiese uitvindings probeer hy agter die kap van die byl kom rondom wie die boelie is, maar dit lei hom om na die dieper betekenis van vriende en verhoudings te delf.

Paul Loots, wat die die rol van Walter du Toit geneem het, het gesê dit was nog altyd sy droom om ‘n spioen te wees. In sy vorige twee films, Verraaiers en Roepman, het hy die rolle van beskeie karakters aangeneem, maar in hierdie film kan hy homself as ‘n ware superheld bewys.

Du Toit verloor egter sy hart op die beeldskone Chanté-Amoré, wat vertolk word deur Izel Bezuidenhout, ‘n graad 9-leerling van Hoërskool Eldoraigne. Dit is Bezuidehout se eerste film, maar sy geniet elke oomblik daarvan – ten spyte van die harde werk en lang ure.

Hierdie jong, aspirantakteurs word geleer en bygestaan deur bekroonde akteurs Karen Wessels en David James. Wessels, wie onlangs in Wolwedans en Hoofmeisie verskyn het, speel die rol van Walter du Toit se ma, Alet du Toit.

“Dit is lekker om die rol van ‘n ma te speel en nie meer dié van ‘n jong meisie nie,” het Wessels laggend gesê. Sy beskou dit as ‘n nuwe oorgang in haar loopbaan.

Aan haar sy speel David James die vaderfiguur, Roelof du Toit. James, wat bekend is vir aksiebelaaide films soos District 9, het gesê dat sy rol in Agent 2000 ‘n verandering is van die tipe beslissende rolle van sterk en tawwe karakters wat gereeld aan hom toegeken word.

“Dit is ‘n verfrissende verandering om die pa van ‘n gedetailleerde, buitengewone en aksiegedrewe jong seun te speel vir wie ek raad moet gee,” het James gesê.

Volgens James is Agent 2000 die ideale film vir pa en seun.

James is ook van mening dat hierdie film ‘n bewys is dat Afrikaans nie in Suid-Afrika sal uitsterf nie.

“Moenie glo wat die mense vrees nie. Die golf van die Afrikaanse bewussyn is aan die groei in musiek, televisiereekse, filmproduksies en radio,” het James gesê. “Afrikaans word sterker en gemakliker in die land en is ‘n pot wat besig is om oor te kook,” het James bygevoeg.

Nieuwoudt is oortuig dat hierdie film ‘n groot sukses sal wees veral onder die Afrikaanse jeug, maar dit het talle aspekte wat dit vir die hele familie pret sal verskaf.

Exit mobile version