Toer na Twinstreams is vol leersame pret
Umgungundlovu is besoek en die kinders kon die vroeë Geskiedenis van Piet Retief en die Voortrekkers en Dingaan in hulle gedagtes herleef

Op 19 April, het 22 entoesiastiese Graad 6 en 7 Ichthus leerlinge saam met Mev. Yvonne Tiley, Mev. Lucia Catlett en Mev. Helena Viljoen, op ‘n toer na Twinstreams Omgewingsentrum, naby Mtunzini aan die Noordkus, gereis.
Umgungundlovu is besoek en die kinders kon die vroeë Geskiedenis van Piet Retief en die Voortrekkers en Dingaan in hulle gedagtes herleef. In Eshowe het die kinders papier gemaak, die kunstige kleipotte en gras- mandjies by die Vukani-museum bewonder en die asemrowende uitsig tydens die stap na die boomtoppe in die Dlinza-woud, geniet!
Hulle kon daarna nie meer wag om by die omgewingsentrum, Twinstreams, naby Mtunzini, te kom nie.
As gevolg van die uitsonderlike warm weer in Mtunzini hierdie tyd van die jaar, het van die slange wat reeds begin hiberneer het, wakker geword. Genadiglik het niemand op ‘n slang getrap nie, maar Mev. Viljoen het die interessante belewenis gehad om ‘n groot Gaboen-adder oor die grondpad te sien beweeg…in die lig van die skoolkombi!
Met groot versigtigheid, maar ewe groot entoesiasme, is die nagdiere in die inheemse duinewoud daardie selfde aand met flitse gesoek…uile en nagapies en vrugtevlermuise!
Woensdag het die groep die beroemde “UniZulu Science Centre” in Richardsbaai besoek waar ‘n musiekvertoning, ‘n weerligvertoning en die Midi-planetarium vir ons gewag het! Die baie verskillende wetenskap-aktiwiteite waar kinders dit self kon ervaar, was ‘n wonderlike leerskool vir almal.
Die Umlalazi Natuurreservaat was vol ontdekkings: die vleilande, moerasse en die swart modder, wat volgens die gidse, baie goed vir ons velle is. Die rooi moeraskrappe was volop en het meer as genoeg kos gehad om te eet – die moerasbome se blare.
Kajak-ry op die Umlalazi-strandmeer het ‘n groot gelag tot gevolg gehad toe sommige kajakke bietjie in die verkeerde rigting gegaan het. Opwindende strandspeletjies, spanbou en om van hoë sandduine af te spring was deel van die pret van die Umhlatuze- en die Umlalazi-span.
Lanternbekruip op die duine in die nag was ook ‘n baie opwindende ervaring. Waterstudies, duinstudies, woudstudies en grasveldstudies is alles op ‘n prettige manier aangebied en almal het regtig so baie oor die wonderlike verskeidenheid in God se skepping geleer.
Ichthus wil die onderwysers, ouers en leerlinge vir ‘n heerlike toer bedank en is ook baie dankbaar teenoor die Here Jesus vir Sy veilige bewaring.
Soli Deo Gloria!



