AfriForum verf nuwe padmerke voor Lucas Meyer Skool
AfriForum se Vryheid-tak en Abaqulusi-munisipaliteit werk saam om padveiligheid voor Lucas Meyer Skool te verbeter.
AfriForum se Vryheid-tak het op Saterdag 10 Oktober, in samewerking met Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit, die padmerke voor Lucas Meyer Skool geverf as deel van ’n poging om die omgewing veiliger te maak.
Die projek het lede en vrywilligers die geleentheid gegee om saam met die munisipale span te werk en praktiese ervaring met die verf van padmerke op te doen.
Voorsitter bedank span en vrywilligers
Linda de Jager, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak, het haar waardering uitgespreek teenoor almal wat deel van die projek was.
“Dis vir my as voorsitter ’n voorreg en ’n eer om julle in my span te hê. Ek waardeer julle,” het sy gesê.
’n Woord van dank is ook gerig aan die manne van Abaqulusi wat hul tyd afgestaan het om hul kennis en vaardighede met AfriForum se lede te deel.
Die tak bedank verder die borge wat verf en toerusting beskikbaar gestel het, asook die gemeenskapslede wat onderweg stilgehou en koeldrank vir die werkspan gebring het.
Elke AfriForum-lid wat sy of haar tyd en energie aan die projek gewy het, word ook bedank. ’n Spesiale woord van dank gaan aan Pottie vir sy insette, ondersteuning en bystand deur die loop van die dag.
Dag met ’n braai afgesluit
Ná die harde werk is die dag met ’n braai en gesellige samesyn afgesluit.
Die projek wys weereens hoe samewerking tussen die munisipaliteit, organisasies en inwoners ’n praktiese verskil in die gemeenskap kan maak.
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



