BlogsDie WoestynrotOpinion

Aap en daai padblokkade…

Aap se dag het ook soos dreigende maagwerk begin. Hy en sy kommando bobbejane het hulle bikes gevat en gaan padblokkade hou op die Newcastle-pad. Die Burgermiesies is skynbaar nog steeds moerig oor die gestelery en morsery in Dundee, en sy het Aap en sy lotjie die kop gewas. Aap staan nou dikbek net anderkant …

Aap se dag het ook soos dreigende maagwerk begin. Hy en sy kommando bobbejane het hulle bikes gevat en gaan padblokkade hou op die Newcastle-pad. Die Burgermiesies is skynbaar nog steeds moerig oor die gestelery en morsery in Dundee, en sy het Aap en sy lotjie die kop gewas. Aap staan nou dikbek net anderkant die Skietdrif-afdraai en begin karre stop.

“Wat moet ons kyk, Aap?” vra sy luitenant (die een met die blink Raybans). “Enigiets,” brom Aap. Hy gaan grawe in sy Harley se saalsakke en krap ‘n twakkie uit. Hy plak sy eie Raybans op sy smoel, gaan lê teen sy Harley en suig behaaglik aan die dampie. Dan lui sy selfoon skielik, en toe begin die poppe dans. Die De la Rey ringtone raak weg as hy so half blafferig antwoord. Dis Miesies Aap aan die ander kant. Sy gil dat die manne by die borde teen die pad haar kan hoor.

Aap raak wit, en sy smoelwerk beginne plooie trek onnerie Raybanne. Hy pluk die darkies van sy breë bek af, “ gil “WAT?” só flippen hard in die selfoon dat hy self skrik. Hy gooi die foun teen die klippe, draai driftig om, en moer neer oor sy Harley se sidestand dat sy keps so uh boog trek, en sy halfgerookte skyf eenkant toe spat. Waar dit die los wintergrassies annie brandsteek.

Hy spring op. Hy brul op sy troepe. Die manne gooi die boeteboekies, J534’s en al hulle ander parrafenalia neer en kom storm nader. “MY KAR!” brul Aap weer. “Hulle het so pas my *º§¿½% kar gesteel!” Aap se byvoeglike naamwoorde raak op. “By my huis!” Hy raak bleekwit ommie kiewe. Dan verstar hy. Stokstyf. Hy kyk in die pad af. Rigting Hattingspruit. “Wat kry ons nou?” brom hy.Die manne kyk om waar Aap wys.

Daar onner innie pad kom sy pasgesteelde Toyota’tjie houtgerus aangery. Die skermonkel agter die wiel sien eers nie die roadblok raak nie, maar toe Aap voor innie pad gaan stelling inneem, met sy hanne oppie heupe, so oppie gun innie holster, lykit eigentlik of sy Toyota’tjie hikkings kry soosie skermonkel agterie wiel sy gattaf skrik. “Dag, meneer,” kom groet Aap baie vriendelik by die venster. “Waarheen gaan u dalk? Is dit u voertuig hierdie?”

Skermonkel groet bewerig terug. “Ja, meneer….láááánkal gekoop….nog op Tugela Ferry, meneer…” Aap sluk ‘n wind. Hy staan nader en sien sy pakkie skywe en Miesies Aaap se selfoun oppie desh lê. “Jou moer….! Jy lieg……!?” Aap se wind raak uit. Hy pluk die skermonkel sommer deurie venster uit. So mettie een poot. Skermonkel vra bitterlik onskuldig, daar waar hy in Aap se een klou hang, met sy voetjies so neffens Aap se belt buckle, “ma’ hoe bedoel menee’ dannou?”

Aap se oge dop om. Hy brul. Dan raak sy oë skielik kalm. “Jy sien, die saak staan nou eintlik so…DIS MY *º§¿½% KAR!” Skermonkel se bek val oop. Hy begin ook winde sluk. Dan beduie hy grootoë agter Aap se rug waar die geel Harley nou in ligtelaaie staan. Die manne hol. Aap laat val vir Skermonkel, en agter hom begin die Toyota’tjie, steeds aan die idle, self wegloop, sonner handbriek, die slote in.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Terry Worley

Terry Worley has been associated with the Courier for many years and is involved in the community covering a variety of issues affecting residents. He has a passion for local politics and for the history of the area.

Related Articles

Back to top button