Homo Sapiens – In Dundee
Die aanpasbaarheid van homo sapiens het my nog altyd verbaas. Daardie eerste laat namiddag wat ek, my vrou en my dogter met ons konvooitjie in die vroegskemer Dundee, KZN binnegry het, die son uit my grimmige hart en die moegheid ‘n vals glimlag om my gesig, het ek die eiesoortige gewoel en gewerskaf in Karellandmanstraat …
Die aanpasbaarheid van homo sapiens het my nog altyd verbaas. Daardie eerste laat namiddag wat ek, my vrou en my dogter met ons konvooitjie in die vroegskemer Dundee, KZN binnegry het, die son uit my grimmige hart en die moegheid ‘n vals glimlag om my gesig, het ek die eiesoortige gewoel en gewerskaf in Karellandmanstraat net één kyk gegee. My tweede aanval van hond-se-gedagte het soos ‘n skoot koue water oor my uitgeval. “O, my dooie, dooie d*nner,…” het ek hardop gedink. “Wat de hel het ons gedink gaan ons híér kom doen????” Toe sien ek die Pick en Pay-sentrum. “Hier’s darem ‘n Pick en Pay….”
Ons kry ons straat nadat ons amper by Talana Museum gaan draai het. Die groot ou huis word met ‘n ontdekkingslus binnegeval, en ons lewe in Dundee begin. My vrou sê daardie eerste aand op die stoep, “Luister…..” Ek luister, maar ek hoor niks, en ek sê so. “Juis,” sê sy. “Jy hoor niks.” Ek was nog steeds skepties oor dié dorpie, veral met sy hoë Engelse inhoud, maar ek het vir eers my vrede behou. Min het ek geweet wat op my wag…
Min het ek geweet dat hierdie dorp kan kóók, as sy mense net wil. Die geskiedenis, die historie, druip van al sy stigmata, en vloei oor sy wel en weë, met spoke soos Penn Symonds, Moller, Meyer en vele ander naamlose verskynsels wat Dundee die toerisme-fabriek maak wat dit is, en beter kan wees. My eerste paar History-in-Actionfeeste het gekom en gegaan, met shopstewards soos die Boogskutter, Evan, Pam, Pat, Decima, Gill en vele ander op die vloer van hierdie toerisme-fabriek wat met skoon, heilige lusgeit, Dundee aan die wêreld verkoop het.
Min het ek geweet dat die eerste ontvangste in die dorp soos ‘n ongesiende virus onder my vel sal loop sit, en ek van ‘n voorheen ongekende faktor bewus geword: my dag het skielik te min ure in gehad. Waar ek in Pretoria my dag moes ombid, moes ek hier nou bid soos ‘n Josua van ouds dat die son tog net so effe stil sal gaan staan. En dat ons almal sal besef wat ons beet het in hierdie plek, en nie ophou om dit aan die wêreld te verkoop nie.
Mense het gekom en gegaan, mense soos ou George Mitchell, wat nou weer Anglo-Saksiese weer aan sy bas voel, verskeie besoekers wat nie uitgepraat kon raak oor die geskiedenis wat so visueel in al sy glorie hier blootlê, en plaaslike Dundoniërs, sommige wat al sinies geraak het oor die geskiedenis, en ander wat met ongekende entoesiasme voortstu om Dundee sy plek op die nasionale verhoog te gee wat dit verdien. Ek kan al sien hoe van ons spoke instemmend knik waar hulle die gebeure hier gadeslaan. En ja, ou Pellie en Maans, goeie pad vir julle in die land van die Silvervaring. As die eerste hadeda oor die jakaranda se toppe kom skreeu, sal ons vir julle ‘n knertsie op die grond uitgooi. Mooiloop.



