“’n Ford wat voëltjies vreet”
Dit was amper soos by ‘n begrafnis, maar nie rerig nie. Die wit Fordjie staan, asof beteuterd, voor die lorrie, waar die drywer aanstaltes beginne maak om hom te laai, vir sy laaste trip, weg uit my lewe uit. My kleinboet het hom eers gery, sedert die begin van die negentigerjare, en hy het hom …
Dit was amper soos by ‘n begrafnis, maar nie rerig nie. Die wit Fordjie staan, asof beteuterd, voor die lorrie, waar die drywer aanstaltes beginne maak om hom te laai, vir sy laaste trip, weg uit my lewe uit. My kleinboet het hom eers gery, sedert die begin van die negentigerjare, en hy het hom met sy laaste trip op die sandpad Koës toe, naby Keetmanshoop, solidly deur sy gat getrek toe hy hom gat oor teeketel geflip het.
Afgeskryf deur die assuransie, weer teruggekoop, reggemaak, maar effe meer krom en skeef dié slag. Ook so ‘n effe meer dringende rattle-tjie in hom, daar agter by die uitlaatpyp iewers. Die roesgogga het ook stilletjies, onopsigtelik, soos ‘n kanker, sy intrek geneem, maar die Fordjie het geloop. Elke môre gestart, sonder enige klagtes of treurmares. Ek het hom so min as moontlik gewas, hoofsaaklik uit ‘n stille, innerlike vrees dat sy dop te dun gaan raak om al sy parte bymekaar te hou.
Op daai epiese honeymoon trip van ons, ek en my spiksplinternuwe vrou, het ons die wit Fordjie deur die Namibwoestyn gedryf. By elke stop het ons van die verflenterde Namibmossies uit die spoiler getrek wat te laat opgevlieg het van die pad af, en aanleiding gegee het tot die rumour dat die Ford voëltjies vreet. Ek dink ek het nog iewers ‘n foto van die Ford, waar hy in die woestyn staan, kompleet soos ‘n glimlaggende dik kat met mossies in sy bek. Of daar waar ons by die grenspos probeer het om Breggie die kat onder die seat toe te pak, maar toe ons by paspoortbeheer uitkom, sit sy op die voorste seat vir die doeane– amptenare en loer. Ek het net my kop tussen my skouers ingetrek, gemaak of ek dié kat nie ken nie, en so gou moontlik aangery.
Daai nag ry my vrou met hom deur een van die sylope van die Visrivier dat die water spat. Ek sien al hoe kamp ons hier in die donker op hierdie sandvlakte, maar nee, die Ford skud hom af soos ‘n vies kat, en later daai nag ry ons die gasteplaas binne met die Ford vol stof, sand en’n paar ekstra duike waar die Naukluft se klippe hom gekatessa het. (Moerse klippe, meneer….) Etlike jare later gaan staan hy met my die eerste keer. In Wellington, voor die kooperasie in Kerkstraat. Al wat hy toe wou hê, is ‘n nuwe battery, en die swartsak wat hy om een of ander duistere rede in sy lugfilter gekry het.
Baie jare later, na hy die trips Braamfontein toe oorleef het, en vir meer as ‘n maand in Jan Smuts Avenue in Johannesburg met ‘n oop deur gestaan het, eindig hy in Dundee. Waar Peter gou die roesgate toemaak, ‘n nuwe lagie witverf oorplak, en die handbriekkabel regmaag. Sodat ek hom kan terugstuur na kleinboet toe, wat hom weer wil hê. Op ‘n reguit stuk pad buite Ladysmith kom die Ford-era stilletjies tot ‘n einde toe hy op die voertuigdraer parkeer word. Oor ‘n paar dae sal hy weer Swakopmund se soutpaaie stoftrap. Ek hoop maar net hulle het ook unleaded daar, ou pêl. Dan kan jy weer voëltjies vreet, want ‘n groot stuk van my sal binne in jou bly.



