Regte, regte, en nogmaals regte….
Regte…rights…privileges…al hiervan gehoor? Ons het vandag sóveel regte dat ons nie weet waar om te vat en waar om te los nie. Die arme Jody Kollapen van die Menseregtekommissie móét sy gat afwerk. Ons het die reg om sleg te wees, te staak, niks te doen nie, nie skool te gaan nie, nie vir ‘n …
Regte…rights…privileges…al hiervan gehoor? Ons het vandag sóveel regte dat ons nie weet waar om te vat en waar om te los nie. Die arme Jody Kollapen van die Menseregtekommissie móét sy gat afwerk. Ons het die reg om sleg te wees, te staak, niks te doen nie, nie skool te gaan nie, nie vir ‘n werkgewer te luister nie, ons ouers te vloek en te ignoreer, en, les bes, die reg om hoed in die hand te gaan staan by iemand wat sal kos of skuiling uitdeel as alles skeefloop.
Onlangse koerantberigte het aangedui dat ‘n skoolhoof van ‘n vooraanstaande skool in Pretoria van aanranding aangekla is nadat hy ‘n skermonkelkind aangevat het oor sy swak gedrag teenoor onderwyseresse. Die kind had blykbaar al ‘n rekord so lank soos die Bowman se geduld, maar dis alles okay, dis mos sy reg deesdae om dit te mag doen. Ons grootste praatpaleise en wetmakers wil dan nou oorweeg om dit onwettig te maak om redelike ouerlike tug onwettig te maak. Dis nou net so asof die tegenswoordige polisie – dié wat ons nog het – nie alreeds ‘n oorhoopse bank vol uitskeiding het om te hanteer nie.
Ons hospitale en skole is deesdae rampgebiede – ek hoor mense wil nie meer hospitaal toe gaan nie…”los my maar by die huis, dat ek hier tussen my eie mense doodgaan…” so asof jy in elk geval in die hospitaal sal doodgaan vandag. Sal jy? Wie weet? Die grootskaalse gebrek aan respek vir lewe in ons land – met sy sakke vol menseregteklouseules en wette en banke vol regte en die Vader Abraham weet wat nog alles, kan ons steeds nie die reg op lewe waarborg nie…net die reg om sleg te wees (lees: maak wat ek wil).
Talle seksuele roofdiere daarbuite maak steeds jag op weerlose kinders, en hier plaaslik maak koerante weer gewag van ‘n pedofiel wat ‘n seuntjie na bewering in Plettenbergbaai om die lewe gebring het. Dan praat ons nie eers van die weerlose klein seuntjie wat in Klawer doodgekap is deur kinders wat nie veel ouer as hy was nie! Regte…watter regte het ons as ons die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan, misken? Het hierdie seuntjies die reg gehad om dood te gaan?
Waar was húlle reg om te lewe, terwyl ons al ons regte so aan die groot klok hang?
De hel daarmee, sê ek. Jy het net regte as jy dit verdien het. Geen mens het die reg om te maak wat hy wil nie. Ons baie regte wat ons onsself nou toegeëien het gee nie aan ons die reg om ander mense in gevaar te stel nie. Dit is wat verantwoordelikheid beteken. Dit is tyd dat ons dit weer aan ons kinders leer.
Confucius het baie jare gelede gesê dat mens moet nie ‘n honger man ‘n vis gee nie. Jy sal hom net vir eendag kos gee. Leer hom eerder om vis te vang, dan voed jy hom vir die res van sy lewe. Hoeveel myl moet ons nog in hierdie land loop voordat ons daardie eenvoudige lessie sal verstaan?



