“Manne en hul mense…”
Hoekom neuk ‘n man altyd bosse toe? Safari’s in die Serengeti en blouwildebeeste tel in die Masai Mara, of dalk tog sommer net hier oor die bult Gemsbokwater, Caprivi of Zambezi-vallei toe. Is daar iets wat ons wil bewys, iets soos ‘n oersinstink wat na vore kom wanneer jy die geluid van ‘n jagtende leeutrop …
Hoekom neuk ‘n man altyd bosse toe? Safari’s in die Serengeti en blouwildebeeste tel in die Masai Mara, of dalk tog sommer net hier oor die bult Gemsbokwater, Caprivi of Zambezi-vallei toe. Is daar iets wat ons wil bewys, iets soos ‘n oersinstink wat na vore kom wanneer jy die geluid van ‘n jagtende leeutrop hoor wat verbykom, die wyfies vooraan en die brommende mannetjies agter? Wyle Pieter Pieterse, bekroonde Afrikaanse skrywer, boskenner en dierevriend het dit bonkig gestel dat jy gaan word weer slim in die bos as die lewe in die stadsoerwoud vir jou te luid en te veel word.
Wat meer het ‘n man nodig om ‘n spiksplinternuwe geliefde te gaan wys dat jy die oulikste bielie van ‘n bokker van ‘n bok is as jy haar bosveld toe kan vat vir so ‘n tentkuiertjie daar in die gramadoelas, en jy vat álles raak, ken ál die diere en goggas wat julle pad kruis, weet waar om die lekkerste staanplekke te kry, en die son die mooiste ondergaan? Of nog beter, as jy jou laaitie kan gaan impress met al die goete daar buite waarvan ‘n man in Afrika behoort te weet?
Jy kom deur daai diksandpad met die volgelaaide bakkie aangebeur. Jy hoop jy ken nog die pad na die kampplek toe, en jy hoop verwoed dat daar nie weer ‘n bleddie sivetkat in die kombuislapa ingetrek het nie. Die olifante het nog nie jou rietstort platgetrap nie, en die seekoeie is waar hulle hoort, in die waters van die Quando daaronder by die Boot-Se-Plek. Jy sien dat jou Plek…daai plek waar die drifte en dwange van die daaglikse lewe waaisand word wat in die wind wegwaai, nog staan, en dat jou boot se rooi tenk nog steeds teen die klip lê waar jy hom laas vergeet het.
Jy trek daai swaar groen seil vannie bakkie af, jou laaitie en sy tjommie begin afdra, en jy gaan staan, net so vir ‘n effe verposinkie, en jy groet weer die hartland waar jou lewe, té lank terug, kante gekry het. Daardie aand sit jy en die seuns om die hardekoolvuur, en jy laat hulle luister na die hiënas wat vir julle giggel net buite die vuurkring. Luister na die veraf kug van ‘n leeumannetjie wat op die soel windjie na julle aangedrywe kom as die Afrikanag met koel vingers aan jou neus kom vat. Of die seekoeie wat steun-steun teen die walle onder by die rivier uitkom om te kom wei op die groenigheid in die vlak nattigheid.
As julle gelukkig is, sal die olifante hulle verskyning maak. Doodstil kom die ou bosreuse te voorskyn uit die mopaniewoud daar waar die son so ‘n uur terug loop sak het. Jy wys die laaities hoe die olifante wegraak innie donker as jy die flits aansit. Die ou grotes steur hulle nie aan jou nie, en loop breek-breek al langs die oewer weg in die rigting van Botswana. Sodra die geur van grain-fed beef rump op die asem van die nag wegdrywe, kom pla die kinders van Afrika al op die vuurlyn vir ‘n happie, en jy sien deur die braaivleisrook deur hoe jou laaitie se oë slim raak.



