Die Nuwe! Onafhanklike! Republiek van Endumeni…
Die nuwe Worship De Mayor van onse ou dorpie stuur nou vir Aap en sy bende Harleydrywers om die Aah-En-See’s daar teen Talanaberg in kettings, voetboeie en sementsandale te slaan en voor haar Most Magnificence te laat kom paradeer. Vandat die vorige Worskap die Biltongfees bygewoon het, en dan nog saam met die Boere kleilat …

Die nuwe Worship De Mayor van onse ou dorpie stuur nou vir Aap en sy bende Harleydrywers om die Aah-En-See’s daar teen Talanaberg in kettings, voetboeie en sementsandale te slaan en voor haar Most Magnificence te laat kom paradeer. Vandat die vorige Worskap die Biltongfees bygewoon het, en dan nog saam met die Boere kleilat gegooi het, het die nuwe Burgermiesies die blou papparellekoors gekry, en sommer ook haar induksie-speech in Zoeloe gehou. Daar is onmiddellik ‘n dekreet uitgevaardig dat die nuwe Minister of Forrin Affêrs, Oompie Evan, en sy deppittie, Groot-Pierre, nie meer mag Indaba toe gaan nie, want hulle het bonusse van die Nuwe! Verbeterde! Amalgameerde Bank van die Dorp met die Berg waar die Bliksems Rol! van die nuwe Onafhanklike Republiek van Endumeni verkry om sommer ‘n sokkergame ook in te werk as hulle op die onkoste vannie burgers gaan Indaba hou.
Alle taxidrywers moet ook nou onmiddellik begin om hulle hazards permanent aan te hou, dan hoef hulle nie tyd te mors om die knoppie voor in die Siyaya te soek nie. Hulle kan dan sommer onmiddellik op enige plek innie pad stop, alle stopstrate ignoreer, of daarop parkeer, afhangende van watter een eerste kom, hulle vuilgoed langs die pad af te laai (sodat Aap en die sidekar-Harley’s dit kan kom optel) en voor jou inry. Die Nuwe Wet Een van 2010, die Wysigingswet op die Beheer van Alle Taxiversperrings, maak nou voorsiening dat geen ander karre met hazards gaan toegerus word nie, en wettig nou ook die stilhou van taxi’s waar hulle hazards aangaan.
Alle banktransaksies, kaartjieverkope, kerkdienste, uitk*kparades, politieke speeches, verjaardagwense, veediefstalle, drag races en bulveilings mag ook voortaan net in Zoeloe gehou word. Toergidse, Souties, petroljoggies, blouvlamdrinkers en soortgelyke persoonlikhede wat nie Zoeloe kan praat nie, word nou verplig om by die Worship se ABET-klasse te gaan Zoeloe loop. Alle Aah-En-See’s wat oorgeloop het na die DeeAah, die Aai-Ef-Pie, Chicken Licken, Sundown Café, die Tarentaal se koekversieringsklasse by die Biltongfees en Grannie Jones se slide rule demonstrasies by History in Action, sal nou belet word om weer die vloer te kruis. Enige oortreders wat hulle aan enige kruising van enige aard weer skuldig maak, kan gevonnis word tot sewe houe met die stomp kant van ‘n ligte byl, of verpligte en geforseerde bywoning van ál die reruns van die Mel Gibson movies wat die Essaybiesie nou wéér aan lisensiebetalers opdis.
Alle KFC konsessiereghouers gaan nou elke week saam met die nuwe Worship deur die dorp stap om Kentuckypapiere op te tel. Die berge Kentuckybokse wat orals in die strate rondlê, sal saamgepers word om nuwe fossil fuel aan Eskom te verskaf, sodat die republiek nou net één kragonderbreking per dag kan hê. uThukela Water se naam gaan verander word na Earl Grey Water, en alle nuwe werknemers daar gaan ‘n eed van geheimhouding teken oor die regmaak van pypbarste en water wat lyk soos koue tee.
O, en die Diehards gaan nou blou uniforms dra. Die kleur rooi is herklassifiseer as colonial.
Sela.



