ʼn Nuwe dag in die lewe van ʼn post-Nkandla Endumeni-amptenaar en die begin van ʼn nuwe industrie in Dundee
Met al die harlaboerla van die eleksie, nou pas agter die rug, begin daar hier en daar tekens van hernuwing sigbaar word. Die munisipaliteit begin glad strate weer verf – man wonder of hulle dalk tog iets aan die abortiewe verfjoppie in Karellandmanstraat gaan doen, maar dit is dalk nog te gou om bly te word …

Met al die harlaboerla van die eleksie, nou pas agter die rug, begin daar hier en daar tekens van hernuwing sigbaar word.
Die munisipaliteit begin glad strate weer verf – man wonder of hulle dalk tog iets aan die abortiewe verfjoppie in Karellandmanstraat gaan doen, maar dit is dalk nog te gou om bly te word oor nuwe besems. Die agbare lede van die Raad het nou wel van die bestuurders laat gaan wat voor die Herstrukturering aangestel was, maar die plaaslike regeringsverkiesing lê voor die deur, en dit mag dalk net ‘n studie van antropologiese proporsies word om te sien hoe die groot manne en vroue in die gange van die Kremlin gaan skarrel om weer die guns van die kiesers te wen.
Die EFF is nou in die Parlement (mense wat ses maande terug gesê het dit gaan NOOIT gebeur is, is nou skielik baie stil) en dit laat mens wonder of hulle dalk kandidate gaan beskikbaar stel vir die plaaslike verkiesings…? Kan mos net interessant raak. Die twee aparte ANC-faksies in die dorp gaan mos net op hulle tone gehou word deur hierdie verwikkeling. Ek sien al die Tarentaal in sy rooi hoedjie en suitjie wat toyi-toyi voor die burgemeester se parkeerplek daar voor die Kremlin.
Dalk kan hulle nou die munisipale verkeersdepartement vir die Oningeligte Massas daar buite nasionaliseer en daarby al RTI se sirenes verkoop om te betaal vir ‘n nuwe verkeersman of twee. Wie weet, dalk kan ons daardie komieklike kort mannetjie van Glencoe binnekort in ‘n traffic cop se uniform sien…? Dan hoef hy nie voor die MM se kantore rond te hang in die hoop om dalk vir ‘n ou joppie oorweeg te word nie…?
Hoohoo… die sinne duisel…
‘n Clean-up Squad vir Dundee kan ook aan gedink word. Ons kan dalk die reaksiemag vir die nuwe, alsiende kameras wat vir Dundee oorweeg word, ‘n bonussie betaal as elkeen so ‘n paar ou Kentuckybokse optel as hulle voortsnel na waar iemand besig is om droog te maak…? Werkskepping, Nkandla-style…! Dit mag dalk net die stuwende harte van die vurige toerismekomitee met vreugde vervul as die spanne megabusse weer voor die Royal aantree sodat falankse van buitelandse besoekers sonder moeite deur die dorp kan ry om te slagvelde toer…? En nie deur stormwolke van piesangskille en papiere hoef te beur om by Talana uit te kom nie.
Hulle kan sommer eerste met die pad Vryheid toe begin. Die tonne bottels en drek wat daar van die Cotswolds af langs die pad gestrooi lê, is ‘n godskreiende skande. Hier van die Corner Supermarket af na die Boxer Store het die drek Sondagmôre so dik van die sypaadjies afgelê dat jy ‘n Checkerstrollie sonder moeite van die straat af tot op die sypaadjie sou kon stoot.
Een punt van belang het die naweek soos ‘n baken van beskawing bokant die Kentuckybokse uitgetroon. Die groot span kuiergaste van Signature-toere wat by die Royal Country Inn ingeboek was, het die Royal se kos met die beste vergelyk wat hulle al ooit ervaar het. Knap gedaan, Motz en jou hele span. Dit wil, soos altyd, gedoen wees…



