Elke veteraan vandag het ‘n hand gelig in saluut
Ek ploeg deur die honderde videos op Youtube wat in bittere detail die hartseer, en dan die respek vir die gesneuweldes aantoon. 'n Engelvlug wat kom land, word met groot seremonie deur brandweerwaens op die aanloopbaan ingewag, waar die vliegtuig dan stadig deur die saluut van die brandslange wat water oor hom spuit, beweeg en by 'n hangar tot stilstand kom, waar 'n spesiale deputasie vir hom wag.

“Angel Flight One-Zero-One, this is Kennedy Tower. You are cleared ahead for landing, runway 160A. Welcome back.”
“Roger, Kennedy Tower, this is Angel Flight One-Zero-One, and we have two heroes on board tonight.”
Lande soos die VSA en Kanada betoon ongelooflike respek aan gevalle soldate en selfs dienshonde, wie se oorskotte in spesiale vlugte terug na hul tuistes geneem word.
Ek ploeg deur die honderde videos op Youtube wat in bittere detail die hartseer, en dan die respek vir die gesneuweldes aantoon. ‘n Engelvlug wat kom land, word met groot seremonie deur brandweerwaens op die aanloopbaan ingewag, waar die vliegtuig dan stadig deur die saluut van die brandslange wat water oor hom spuit, beweeg en by ‘n hangar tot stilstand kom, waar ‘n spesiale deputasie vir hom wag. Ek kyk hoe ‘n gevalle hondehanteerder en sy dooie dienshond, elk is sy eie kis, by die vliegtuig uitgehaal word in ‘n vlagseremonie deur die bagasiehanteerders. Wanneer die lykswa vertrek met die twee kiste, spoed die nuus vooruit, en elke polisievoertuig, ambulans, brandweervoertuig of enige ander diensvoertuig, kom tot stilstand langs die pad, en die lede staan op saluut langs die pad. Op die oorhange staan lede van die publiek, oudstryders en kinders in saluut met nasionale vlae terwyl die oorskot voortspoed na sy laaste rusplek. In Nieu – Zealand doen ‘n hele regiment ‘n spesiale haka om ‘n paar gevalle makkers op hul pad te sien na hul laaste rusplek. ‘n Amerikaanse marinier staan in saluut vir die hele tydperk wat die lede van die Patriot Guard by hom verby kom. Wat doen ons..??
In die veelbesproke Slag van Bangui, twee jaar gelede, toe valskermtroepe en spesmaglede in ‘n lokval deur rebelle aangeval word, sneuwel 15 Suid-Afrikaners eventueel in een van die grootste gevegte wat ooit nog deur lede van die Weermag sedert die Grensoorlog hanteer is. En hoe goed het hulle dit nie gedoen nie. Dis egter nie die hele storie nie. Opposisie-politici soos David Maynier voel daar lê heelwat onreëlmatighede verskuil agter die gesteriliseerde weergawe wat op die uiteinde deur die owerhede vrygestel is. Stories van swak toerusting, geen lugdekking en ‘n totale gebrek aan kapasiteit deur aanvullingsechelons, sodat ‘n vreemde land moes help met ammunisiehervulling.
Vandag verdoesel en lieg huidige Suid-Afrikaanse politici oor inligting oor hierdie geveg. Families soek antwoorde twee jaar later, die kolonel wat die soldate in die geveg gelei het, word stilletjies uit die scenario uitgeskuif sodat hy nie sy verdoemende antwoorde by ‘n raad van ondersoek kan gee nie, en die feit dat die gesamentlike parlementêre komitee oor verdediging sy bes doen om ‘n ondersoek te belemmer (die laaste vergadering was ‘n skande en klap in die gesig van die soldate), is vandag, twee jaar later, steeds ‘n monumentele pligsversuim aan die kant van die huidige parlement.
Ek het hierdie manne van ‘n afstand staan en kyk toe die oorlewendes van daardie geveg op reis deur Natal in Dundee aangekom het. Elke veteraan vandag het ‘n hand gelig in saluut.



