Mens is nie haastig met stadige dinge nie…
Koffie. ‘n Kort, klein woordjie, maar een wat die krag het om keiserryke te laat val. Eendag, baie jare gelede, het ‘n bokwagter in die Ethiopiese hooglande gesien hoe sy bokke aan ‘n eienaardige boompie met sulke rooierige bessies peusel. Hy het nie veel daarvan gedink nie, maar het gesien hoe sy bokke later heeltemal …

Koffie. ‘n Kort, klein woordjie, maar een wat die krag het om keiserryke te laat val. Eendag, baie jare gelede, het ‘n bokwagter in die Ethiopiese hooglande gesien hoe sy bokke aan ‘n eienaardige boompie met sulke rooierige bessies peusel. Hy het nie veel daarvan gedink nie, maar het gesien hoe sy bokke later heeltemal simpel begin raak, en het weer gaan kyk na die bossie. Dit het sulke rooierig vruggies aan gehad, en hy vat toe ‘n paar saam.
As sy bokke so jolig en vol aapstreke raak, is hier dalk net ‘n ding, het hy stellig by homself gereken. Hy het nou nie sy laptop gevat en die ding gaan Google nie, want sien, Jan van Riebeeck was toe nog nie daar gewees nie, maar hy het wel van die Oudstes van sy stam gaan vra. Die ou kêrels, in hulle wit kabaaie, het die bessies só gekyk, en die een outop het geproe aan ene, en het daar op die moment ‘n helder oomblik gekry.
Hy gaan gooi die bessies in ‘n pan, en gaan sit die ou spulletjie toe op die vuur. Daar ontwikkel ‘n hemelse geur uit die pitte uit, en hulle begin verkleur. Die ander outoppie kom staan ook nader, maar hy stort toe blykbaar water oor die ou spulletjie uit, en daar begin die legende van Kaldi toe ontstaan. Dit aldus die Ethiopiërs. Die Arabiere sê natuurlik hulle praat twak, en beweer dat hulle eerste die koffieboom ontdek het, en die die bokke van Kaldi nie, maar ja, wie gee nou eintlik om….?
Ons weet beslis dis nie die Amerikaners nie, want hulle is blykbaar die ontdekkers van kitskoffie, en dis een van die grootste misdade wat nog sedert die steel van die appels in die paradys gepleeg is. Kitskoffie….?
Mens is nooit haastig met stadige dinge nie, en as jy koffie maak, maak jy dit ordentlik. Daardie geroosterde bone word in ‘n houtmeultjie gemaal, en dan voeg jy water by wat net van die kook af gegaan het. Moenie kokende water by neuk nie….!!! Daar is niks erger as gebrande koffie nie. Niks. Koffie meet mens tot die laaste krummeltjie uit, en plaas dit versigtig in jou koffie-apparaat. Moenie dit kook soos sop nie, en as jy een van hierdie Amerikaanse uitvindsels het waar jy die koffie deur ‘n filter laat drup, maak dan net genoeg vir jou onmiddellike behoefte, want enige koffie wat laat staan word, gaan trek. Probeer hom so ‘n halfuur later drink. Bloed van Lucifer, sê ek jou. Dit brand langs jou ingewande af, en laat die verf van jou enjinkamer se wande afspring. Nee, nee, nee……gooi weg.
Koffie is een lepeltjie per beker. Niks meer nie. Koffie wat die lepel in kan regop staan, is nie meer koffie nie. Melk help dan nie meer nie, en hoe meer suiker jy by foeter, hoe groter word jou misdaad. Jy mag ook nie gejaag word nie, want mens is nie haastig met stadige dinge nie.
Glad nie. Warm melk, een teelepeltjie heuning kan ook werk, en moer weg die kitskoffie. Bloedvannerwalt.



