BlogsDie WoestynrotOpinion

Noodligte en die definisie van normaal, ‘n nuwe kopskuif…

Normaal is nice.....

Die jaar 2016 is 12 dae oud, en die Bowman wil weet wat is normaal. Heel gepas is hierdie eerste epistel van die jaar my 201ste een vir die koerant sedert ek 11 jaar gelede my eerste artikel in Afrikaans aan ‘n skeptiese Bowman oorhandig het.

 
Die jaar 2015 het geïndig in ‘n ontploffing van rasse-onverdraagsaamheid op sosiale media, drie Ministers van Finansies in vyf dae, ‘n rand wat besig is in ‘n wentelbaan na enige verste planeet van jou keuse te verskiet, openbare dronkenskap en lawaai in publieke ruimstes wat baie van ons plaaslike here in hulle Earl Grey tee laat stik het, ‘n eskalering van spanning op die Turkse grens, ‘n dooie Russiese vegvlieënier en ‘n verswelging van tradisionele waardes oor bykans die hele Europa.

 
“Wat is normaal?” vra ek.
“Wat is die definisie van normaal?”

 
As mense net normaal sou optree, sou ons nie die helfte van die probleme in suid-Afrika het waarmee ons vandag spook nie.

 
Dis nie normaal om ‘n mens se kwaliteite te definieer aan sy etniese herkoms nie, maar ons doen dit tot vervelens toe. Ons kwalifiseer mense se etiese waardes in terme van hulle etnologiese herkoms, en ons kwalifiseer die reg van mense om te lewe in terme van hulle etniese herkoms.

 
Hoe normaal is dit…?

 
Hoe normaal is dit om jou noodligte aan te sit as jy jou girlfriend langs die pad wil aflaai, en jy stop dood in die middel van die pad.
Die res van die wêreld moet dan maar vlerke groei en bo oor jou vlieg as hulle dalk sou wou aangaan met hulle lewens. Hoe normaal is dit om mense te leer bestuur in hierdie Kode 10-trokkies, wel wetende dat nie een van hulle ooit weer so ‘n trokkie gaan bestuur nie, en daarna kan bykans nie helfte van die bestuurdersbevolking nie parkeer nie.

 
Hoe normaal is dit om ‘n vrou tot die dood toe aan te rand omdat sy nie ‘n kind by jou wil hê nie..?? Never mind of sy met jou getroud is, of nie. Hoe normaal is dit om ‘n dronknes van ‘n straatpartytjie elke agtermiddag te gaan hou, tot intense frustrasie van die inwoners van die omgewing, en dan weer te boggeroff daar na waar jy vandaan kom, en al jou drankbottels, gebruikte kondome en kospapiere net daar te los waar jy aan jou selfgratifikasie vrye teuels gegee het…?

 
Konsiderasie is ‘n onbegrensde begrip soos iets uit Space Oddyssey 2001 uit.
Dis iets wat vaag onskryf is deur ander mense wat jy nie ken nie, en in wie jy nie belangstel nie. Die oomblik wat jou straatmusiek begin om die omgewing se vensterrame los te vibreer, dan begin jy vaagweg bewus word dat mense de moer in raak vir jou.

 
Hoe normaal is dit…?

 
Hoe normaal is ‘n regering wat drakoniese wetgewing teen sy eie mense instel, hulle geld vat, jou maatjies aanstel in posisies waarvan hulle die name nie eers kan uitspreek nie, en dan ander mense die skuld gee as jou munisipaliteit of jou politieke party soos ‘n verrotte karkas ineentuimel….?

 
Hierdie land het ‘n regeringsprobleem, wat aanleiding gee tot ‘n rasissme-probleem, wat gaan aanleiding gee tot onnodige drama. Normaal? Nee. Normaal is wanneer jy kyk of jy jou buurman kan help. Normaal is wanneer jy nie ‘n ander mens kwaad aandoen omdat jy kan nie.

 
Normaal is nice…..

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button