Maak tyd vir jou naaste, hier dig by jou!
Mevrou – Ek het vandag iets wat soos ‘n berg voel, op my skouers. ‘n Ding waaraan ek as gewone mens niks kan doen nie, net bid sonder ophou bid. Wat het geword van ‘n goeie prysbeheer in ons pragtige land? Vasgestelde pryse soos van byvoorbeeld stapelvoedsel? Maar nee, as ek na die winkels toe …

Mevrou – Ek het vandag iets wat soos ‘n berg voel, op my skouers.
‘n Ding waaraan ek as gewone mens niks kan doen nie, net bid sonder ophou bid.
Wat het geword van ‘n goeie prysbeheer in ons pragtige land? Vasgestelde pryse soos van byvoorbeeld stapelvoedsel? Maar nee, as ek na die winkels toe gaan, dan wil elke supermark meer vra vir brood, eiers en melk!
By al wat ‘n winkel-senter is, staan daar bedelaars, boemelaars en selfs kinders met smekende oë met bakhande hopende om darem’n paar sent of ‘n stukkie te eet te kry.
Mense se harte is hard teenoor die samelewing. Hulle uitgaanspunt is; “Nonsens! Die ou of daardie kind gaan net drank of gom koop met my hardverdiende geld!” Met die winter op ons voorstoep, kan ons gerus daaraan beginne dink om meer om te gee vir jou naaste. Duur produkte mis te kyk en net die nodige te koop.
Koop jou eie land se produkte en as jy nie ‘n geldjie wil uithaal vir ‘n kind of boemelaar nie, koop gerus ietsie te eet vir so ‘n persoon.
Hoe op dees aarde kry handelaars dit reg om ingevoerde artikels spotgoedkoop te verkoop? En jou eie land se wonderlike produkte staan ten duurste op rakke uitgestal? En dan; boere kry meer geld oorkant die waters vir hul produkte as in Suid-Afrika! Is dit nie ‘n hopelose skande nie?
Dit het tyd geword dat ons Suid-Afrikaners hul oë beginne oopmaak en sien wat regtig gebeur voor hul oë! Ouers moet tog asseblief nie jou kind op straat sit om vir die gesin te bedel nie! Dit is vir ander ‘n ope mark vir kinder-handel!
Kinders raak by die dag in dosyne weg om nooit weer gesien te word nie! Word tog wakker vir daardie gretige oë wat rondkyk vir kinders sonder sorg, oë wat nie omgee om met kinders handel te dryf nie. Mense wat nie met liefde grootgeword het nie, is gevaarlik, baie gevaarlik!
Dit het tyd geword dat ons ons Skepper, ons Hemelse Vader wat ons vergeet het, weer te leer ken. Maak tyd vir ander by wie jy verbystap en nie meer raaksien nie. Maak tyd vir jou naaste, hier dig by jou!
Elke mens is belangrik vir Ons God, ons Skepper wat vir elkeen die plekkie in die son gemaak het!
Gaatzi Goobi



