Koljander, koljander, so deur die bos, so stem ons tog so vas en los
Waar is die dae toe ons nog van deur tot deur in die land geloop het om politiek te pleeg? Wanneer ‘n politikus vir stemme gevry het, het almal in die dorp geweet, en spanne mense het in deur-tot-deur kampanjes georganiseer. Vandag sien jy allerhande onderduimshede om korrupte politici in die stoele van vetsug te …

Waar is die dae toe ons nog van deur tot deur in die land geloop het om politiek te pleeg? Wanneer ‘n politikus vir stemme gevry het, het almal in die dorp geweet, en spanne mense het in deur-tot-deur kampanjes georganiseer.
Vandag sien jy allerhande onderduimshede om korrupte politici in die stoele van vetsug te hou waar batterye ongesofistikeerde kiesers hulle geplaas het, kwansuis om die land en volk te dien.
Die gatvolfaktor is sterk en dreigend, en selfs van die groot ANC-kanonne in hierdie provinsie, Mzwakhe Sithebe, is van mening dat hulle werk uitgeknip is om hul posisie te behou.
Die DA het ook kastig die kampanjespoor in die distrik gevat, maar baie mense het nie eers geweet daarvan nie. Hier het nog geen politikus van enige aard vir my gevra of ek vir hom of haar en hulle party sal stem nie.
Munisipaliteite is eintlik niks meer as sopkombuise vir die regerende party se werklose stembeeste nie, en diefstal van elektrisiteit hou net aan, ondeurdagte aankope van soms miljoene rande soos ‘n R20 000 se lessenaar, of ‘n R6000 se stoel…??? Laat ek raai, hulle het seker nie geweet van die minister van finansies se sirkulêre aan alle munisipaliteite om die aankoop van luukshede te staak nie…
Waar in jou lewe het jy al gesien dat ‘n geskorste munisipale bestuurder vir iets soos drie jaar by die huis sit terwyl sy saak aansloer, en hy steed R89 000 per maand betaling kry..? En nou wil die munisipaliteit soos Eskom dalk ook beginne karre huur….?
Die Majuba Mhlungu-park in Sibongile is met ‘n groot gedruis aan die inwoners oorhandig, maar is is daar klagtes dat die park geïgnoreer word. Die sogenaamde “ward councillor” vir Wyk Ses was nogal heel adamant dat daar ‘n brief aan die tersaaklike owerhede geskryf is om die park te omhein en ten minste van ‘n toilet te voorsien. Ja, reg….
Dis seker hoekom hulle almal nou in Coronation Park kom rumoer en fornikeer, maar hier is ook geen omheining of toilet nie. Meer as een idioot is al verras deur ‘n mesdraende aanvaller terwyl hy sy cherrie vir die aand daar in die park gediens het, en selfs een of twee voertuigskakings het ook al plaasgevind. Die DA-leier in die provinsie is op rekord dat hy gemeld het dat “we are over-governed,” maar ‘n simboliese toortsie sal volgende Dinsdag in Dundee aankom om 16 jaar se “wall-to-wall local government” in KZN te vier…?
Die Woestynrot het net een woord vir al hierdie shenanigans, en dis stront. Muur-tot-muur regering beteken net dat jou landelike mense se posisie in 100 jaar nog nie verander het nie, en dit sal in die volgende 100 jaar ook nie verander nie. Munisipale prestasies…? Noem my ene, en nie dat julle die syfer van elektrisiteitsdiefstal afgebring het nie.
Begin ook sommer om iets aan ons “Safety en Security deepatmint” te doen, want die aantal hoog onnodige steftes on ons plaaslike paaie is besig om onaanvaarbare tendense aan te neem, as ons na die jongste tragedies moet kyk. Begin net iets doen, al is dit net om vir ons te kom vertel waar ons moet stem. Julle boggers sal net vir my eers moet vertel hoekom.
Sela.



