Wanneer die ouetjies alleen word – of nie…
Hoeveel keer het jy al agter ‘n outoppie in die straat beland wat nie vinniger as 20-30 km per uur gery kry nie, of wat sukkel om by Pick en Pay in ‘n parkeerplek in te kom…? In ‘n plattelandse dorp soos Dundee sien jy gereeld een of twee van hulle, aan die silwerkant van …

Hoeveel keer het jy al agter ‘n outoppie in die straat beland wat nie vinniger as 20-30 km per uur gery kry nie, of wat sukkel om by Pick en Pay in ‘n parkeerplek in te kom…?
In ‘n plattelandse dorp soos Dundee sien jy gereeld een of twee van hulle, aan die silwerkant van hul leeftyd, wat moeisaam aan die stap is, op pad dorp toe. Om wat te gaan maak…? ‘n Broodjie te gaan koop..? Dalk te gaan werk iewers…?
Ons weet almal van Alzheimers wat soms as spottenderwys na “some-timers” verwys word. Hoe weet jy of daai ou siel, wat daar met sy verslete sakkie, of afgeleefde ou karretjie, vandag genoeg gehad het om te eet? Jy sien hulle soms wyfel langs ‘n besige straat, of, soos in Gauteng, bangerig langs ‘n besige interseksie met ‘n stuk karton wat hulle treurmares vir die algemene publiek probeer uitspel en soebat vir ‘n aalmoesie.
Ek onthou nog: “Nee, ons het die ou oom dae laas gesien.”
“Nou het jy in sy huis gaan kyk of hy okay is?”
“Nee, wat….is nie my besigheid nie.”
Dit word gewoonlik aan die polisie oor gelaat om hierdie afgeleefde ou uitskoppelinge dood en koud in sy bad te loop kry, of langs sy bed, of in ‘n piepklein ou kombuisie waar die oumens geval het en nie weer kon opkom nie. Van hulle sterf ‘n eensame en uitgerekte dood met net hul gedagtes as geselskap.
Jy hoor ook mense sê hoe ongeskik daai ou oom of tannie was, maar min mense dink daaraan hoe benoud of vreesbevange so ‘n oumens moet raak as hy of sy net skielik besef hulle het nou geen idee wat hulle moes doen, of selfs waar hulle nou is nie. My ouma Louisa, wat ‘n klein dogtertjie in die Howick-konsentrasiekamp was, het teen die einde van haar lewe aan totale dementia gely. Dit was ‘n vreesbevange ervaring vir ‘n jong seun soos ek op daardie stadium, want Ouma het dan nou heeltemal die kluts kwyt geraak.
Ek wonder net wat deur so ‘n oumens se kop moet gaan as hy die een oomblik glashelder is, en dan net vyf minute later het hy geen idee waar hy is nie. Ek staan hoeka vandag en kyk hoe ‘n jong Zoeloe met ‘n ou swartvrou tekere gaan, en kon aflei dat dit sy ouma was. Hy skel en vloek op haar, pluk haar rond en vat toe iets by haar af. Die ou mens staan daar verlore en verlate op die straat, en ek besef net daar en dan dat ons geen idee het hoeveel van hierdie oudstetjies daar is wat so mishandel of afgeknou word nie. Hoeveel van hulle sit in ‘n agterplaas iewers, in ‘n Wendyhuisie of kamer, en vergaan van vergete ellende…..?? Ou mense wat uitgebuit word deur ongevoelige familie of bure, is geen vreemde verskynsel nie. My ou buurman is ‘n 91-jarige ou Duitser wie se se kop nog skerp soo ‘n vlym is, so dis nie alle silwerjariges wat so hulpeloos raak nie.
Die storie van die ou kêrel wat gereeld nog vir sy Alzheimerlyer-vrou in die tehuis gaan kuier het, dien hier as ‘n teregwysing. Hy word een dag deur een van die personeel gevra hoekom hy dit nog doen, want sy het geen idee meer wie hy is nie.
Sy woorde was: “Dis orraait, ek weet nog wie sy is…”
Is dit nie wat ons moet maak nie….???
Sela.



