BlogsDie WoestynrotOpinion

“Dundee dulce et decorum est, pro patria mori……???”

Met die aanbreek van 2016 het die Eerste Wêreldoorlog en alles wat daarmee gepaard gegaan het, die driesyferouderdom bereik. Met ander woorde, ons staan midde in die eeufeesvieringe van die Slag van Delvillebos, daardie titaniese stryd waarmee Suid-Afrikaanse soldate hulle staal op die slagveld bewys het. Die byna heilige eerbetoon aan gevalle soldate is ‘n …

Met die aanbreek van 2016 het die Eerste Wêreldoorlog en alles wat daarmee gepaard gegaan het, die driesyferouderdom bereik.
Met ander woorde, ons staan midde in die eeufeesvieringe van die Slag van Delvillebos, daardie titaniese stryd waarmee Suid-Afrikaanse soldate hulle staal op die slagveld bewys het.
Die byna heilige eerbetoon aan gevalle soldate is ‘n belangrike deel van Westerse militêre tradisie en die vorming van regimentsgeskiedenisse en nalatenskappe. Die jonger generasies van vandag is eintlik totaal onbewus van die trauma en opheweling wat die wêreld deurgegaan het met die aanloop tot, en die uitbreek van, die Eerste en Tweede Wêreldoorloë. Dan praat ons nie eers van die stryd en konflik wat daarna gevolg het nie.
In Brittanje het manne van dieselfde Engelse dorpie saam in een regiment aangesluit, wat as die sogenaamde “Pals’ Battalions” bekend gestaan het. Wanneer so ‘n eenheid erge ongevalle opgedoen het, soos wel die geval tydens die Somme Offensief was, dan het jy met die situasie gesit dat hele dorpe totaal van hulle manlike inwoners ontvolk was.
Op 1 Julie 1916, met die eerste dag van die Somme, het die Britse Leër sestigduisend man…..dis 60 000 in syfers….verloor as gedood, vermis of gewond. Kan jy jouself voorstel hoe sou Dundee lyk as jy met een slag soveel mans hier wegneem….??? As die Britse Leër vandag in een geveg soveel ongevalle moet ly, sal dit ophou bestaan as ‘n funksionele weermag…!!!
Die opoffering van hierdie soldate, saamgesien met die generasie wat die D-Dagstrande op 4 Junie 1944 bestorm het, was die rede hoekom state vandag nie meer deur konings, keisers of diktators regeer word nie. Op Wapenstilstanddag 1918, daardie byna heilige 11de dag van die 11 maand op die 11de uur, toe die vuurmonde van die Wesfront stilgeraak het, en die Vlaamse modder dikgesuip was aan die bloed van letterlik miljoene soldate, het die wêreld handomkeer verander.
Op dieselfde dag, 1998, het ek onder die Meninpoort by die Belgiese stad Ypres gestaan, en na die seremonie van herinnering gestaan en kyk. Oopmond en verstom oor die eerbiedige wyse waarop daardie mense die gestorte bloed van hulle soldate herbevestig. Die wêreld was swanger van die rooi papawers, en ek het myself verder verstom aan die magdom van name op daardie granietmonument aan die mense se kriminele geweldadigheid.
By die 42 000 name van soldate wat net weg is. Vermis. Hulle is almal baie definitief dood, maar waar is hulle…??? Op daardie dag vind ons uit dat ‘n boer van die omgewing nog vier van hulle oopgeploeg het. Soos wat hulle byna elke dag nog ou ammunisie ook opgrawe of uithaal. Ek kom tot die besef dat die sogenaamde Europese beskawing letterlik op die bloed en beendere van hierdie mense gebou is.
Daar kom sit so ‘n kouerigheid op my skouers. Daar is ‘n immer-krimpende falanks van oudstryders, almal van hulle oor ‘n 100 jaar oud, wat in stille herinnering in hul rolstoele sit, waar hulle versorg word deur ‘n verpleegster of ‘n gunsteling-agterkleinkind dalk…?? Ek staan en kyk hierdie oumense so. Almal met dik woljasse en serpe, onleesbare gesigsuitdrukkings.
Hoeveel van hulle sit vasgevang in hul eie, privaat pelgrimstog..? Wat sou deur so ‘n ou soldaat se gedagtes gaan as hy kyk hoe die slagveld van ouds nou lyk..? Hoeveel van hulle hoor steeds die kanonne, en het steeds die stank van oorlog wat in hul neusvleuels soos ‘n ewigdurende vloek kleef…??
Dis oor hierdie manne wat ons onthou. Dis oor wat kon gewees het, wat ons onthou. En dis wat ons hierdie jaar gaan doen. Sien jou daar.
Sela.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button