BlogsDie WoestynrotEditor's noteOpinion

Die genade van apis mellifora scuttelata en die geur van bloekomheuning..

Heuningbye is een van die mees fassinerende insekte waarmee die mensdom op aarde geseën is. Het jy al die moeite gedoen om te gaan sit en ‘n bynes net dop te hou…? Veral as die swerm dalk op die pad is om te trek. Daar kan duisende bye in een korf wees, en elkeen van …

Heuningbye is een van die mees fassinerende insekte waarmee die mensdom op aarde geseën is.
Het jy al die moeite gedoen om te gaan sit en ‘n bynes net dop te hou…?
Veral as die swerm dalk op die pad is om te trek. Daar kan duisende bye in een korf wees, en elkeen van hulle het ‘n taak om te verrig. Weet jy dat elke by wat jy in die tuin sien, ‘n wyfie is..? Dis die werkers van die kolonie. Wonder of hulle vir ons iets wil sê…?
Tagtig persent van alle plante op aarde, en dit sluit die mens se kos in, word deur bye bestuif. Daar is ander insekte wat ook bestuif, maar heuningbye doen by verre al die werk. Daar is heelwat heuningboere in Noord-Natal, met baie korwe, en daar is ook plaaslike byekenners wat probleemneste uithaal.
‘n Reisende swerm lyk gewoonlik baie erger as wat hy werklik is. Die eerste bye wat in my korf aan die lokmiddel kom proe het, was so kalm dat ek hulle met die hand uit die kas kon haal. Daar was natuurlik nie ‘n koningin by nie, so hulle was nie in selfverdedigingsmodus nie. Hierdie was net honger bye wat op soek was na soetigheid.
Bye kan natuurlik problematies raak, daarom is dit ‘n goeie idee om nie met bye te lol as jy nie weet wat jy doen nie. Daar is voorvalle waar kraggereedskap soos hoekslypers, bore, en veral grassnyers ‘n by-aanval kan veroorsaak. Daar was mense wat al tot soveel as ‘n 1000 bysteke op een slag opgedoen het, en dit oorleef het. As jy allergies is vir bye, kan net ‘n paar steke fataal wees, so moenie met ‘n byswerm peuter as dit nie nodig is nie.

Ons het eendag by ‘n plaashuis op die Dannhauserpad gaan bye onder die vloer uithaal.

Reisende bye kan in ‘n tros byeen kom, en dit word gereeld in bome, of soms teen voertuigvensters gesien.
Ek het al meer as een so ‘n swerm net in plek gelaat, sonder om hulle te steur, en ‘n paar uur later was hulle weg.
Die uithaal van probleemswerms is nie so eenvoudig nie, en plaaslik is mense nie geneë om vir die diens te betaal nie. Meer as een keer is ek al vertel, “Ag vat maar die bye vir jou.” Dankie, maar nee dankie. Ek het reeds baie bye. Die heersende koers in die Kaap vir ‘n moeilke bye-verwydering kan tot by R1200 per dag draai, veral as daar gate in mure of bome geboor moet word sodat jy rook kan inspuit. Die swerm is dan gewoonlik meer aggressief as ‘n reisende swerm.
Ons het eendag by ‘n plaashuis op die Dannhauserpad gaan bye onder die vloer uithaal.
Ek kon die koeke sien, en het ook gou agtergekom dat hierdie swerm nie maklik gaan uitkom nie. Ons moes redelik rook gooi, en jy kon voel hoe die bye teen jou kopnet vasvlieg soos wat hulle aanval. Die huurders van die huis het geensins belanggestel om te betaal vir die diens nie, so met 25 bysteke later, oor my rug en voorarms, ek het al die heuning vir my gevat nadat ek die korf ontsmet het. Ek kan dink hoekom Kapenaars R1200 per nes se uithaal hef. Dit raak nogal seer, weet jy…?
Ek het ‘n vermoede gehad dat daardie swerm weer mag intrek, maar die keer is hy jou probleem, meneer. Ongelukkig dink mense dis meer aanvaarbaar om die bye met gif te spuit as om ‘n verhuising se koste te betaal, en dis jammer, want mense weet nie regtig wat se skade hulle aanrig as hulle bye doodmaak nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button