LettersOpinion

Met ons blik op oneindig verstand op nul?

Hoe bedreigd is ons nou werklik….?

Meneer
Ek sit hier voor my rekenaar op ‘n effe koel agtermiddag in Dundee en verlang terug na my Heimat daar bo langs die weskus.
Ek verlang na blouskofkabeljoue wat winddroog raak agter op my visbakkie op die soutpad tussen Jakkalsputz en Swakopmund terwyl ek planne maak met my maters om die res van die aand om te kry soos wat dit ‘n Boer en polisieman van my ouderdom sou betaam het.
Dit nou terwyl ek die kermkoerantjies op Facebook lees.
Hoe bedreigd is ons nou werklik….?
Kom ons kyk. As ek sê nou, bedoel ek nou soos vandag waar ek nou ook een van Mannekrag se werkloosheidstatistieke is.
Ek het my verstom aan Facebook, veral die valsnuus oor verskeie politici, en veral Malema.
Julle locals sal nou sê ja, hy is ‘n Namibiër, en hy weet nie regtig wat hier aangaan nie. Miskien nie.
Ek weet nie hoekom hier so baie debatte, argumente, storms in teekoppies (of elders) oor Afriforum, Solidariteit, wat daar gesê is, waarom dit gesê is, en wie nou vies is vir wie oor watter nalatenskap van apartheid nou nog weier om dood te gaan nie, en dan, wonder bo wonder, mens hoor Afrikaans in die land. Dis dan so ‘n bedreigde taal?
Dink ‘n bietjie so oor die gedruis oor Engelse etikette op die joghurtbakkies en die wynbottels etlike jare gelede.
As dit net in Engels is, kan ons almal dit lees.
As dit net in Afrikaans is, kan net ons en sommige ander (miskien 20% van die res van die land se mense…??) dit lees.
‘n Oud-kollega het die punt wat ek hier wil maak, destyds baie goed aan ‘n arrogante Yank gemaak toe die Secret Service destyds by ons was om hulle visepresident se besoek aan Windhoek te kom organiseer. Oom Piet het op sy krom en skewe engels vir die Yank gevra of hy hom verstaan. Die Yank het bevestigend geantwoord. Daarna het Oom Piet dieselfde vraag in Afrikaans gevra.
Natuurlik het die Yank toe ontkennend geantwoord, en gesê hy praat net Engels.
Die punt van hierdie verhaaltjie is net dat die klomp agente wat Al Gore teen ons moes beskerm, in ‘n geselsery laat weet het dat die VSA die almagtigste en die sterkste land in die wêreld is, en dat die dollar enigiets kan koop, ons ook. Waarop oom Piet hulle geantwoord het dat die dollar nie vir hulle die vermoeë om Afrikaans te praat, kan koop nie, en dat hulle nie so goed is as wat hulle dink nie.
Al die Afrikaners in die vertrek teenwoordig daar kon Afrikaans en Engels praat, sommige nog Oshiwambo en Damara-Nama ook.
Om nie eers van Duits te praat nie. Die Yank kon net engels praat.
“En dis die queen se taal, nie julle eie nie,” het oom Piet by die deur gesê toe hy die Secret Service vaarwel toeroep.
Mense, mense. Afrikaans is een van die kragtigste realiteite in hierdie land, en sal vir homself sorg.
Hy word nie by wet beskerm in Namibië nie.
Afrikaans word as ‘n regionale African language gesien, en die amptelike taal van die land is Engels.
So what? Hoekom praat die mense dan byna deur die bank Afrikaans? Dis net die comrades wat Engels praat, en selfs baie van hulle het later voor die versoeking gevou en het self Afrikaans begin besig.
Ja, die Afrikaners is bang – baie, altans – en is so polities korrek dat dit zum kotzen is, soos my Duitse medeburgers sou gesê het. En ja, Afrikanerjeug kry nie werk nie. Ek weet dit maar te goed.
Nou wil ek net sê: tap-tap op Facebook, prietpraat in koffiekroeë en ons o, so suiwere verontwaardiging oor rassisme dit en rassisme dat sal ons nie een tree vorentoe vat nie. Vicky Momberg se Damaskuservaring is ‘n punt hier.
Dis twak dat die Boere nie kan saamstaan nie.
Ons kan dit doen, en het dit al gedoen, teen verskeie vorme van vyande.
Ons modus operandi nou is net verk*k (verskoon my Frans) en ons moet begin by die mees skreiendste onreg ooit teen ons mense.
Ons het maand na maand weer Blaukrantze en Weenens (ja, ek het F.A. Venter gelees!!) en niemand sê ‘n woord daaroor nie, die pers maak dit af as ons verdiende loon. Plaasmoorde sal nie ophou nie.
Dis ‘n verskuilde vorm van etniese suiwering, en ek het al gesê dat boere met hul plaaswagte soos in die ou dae by ons moet opereer.
Soos ek gesê het, optrede is wat vereis word hier.
Hoekom wag ons net tot mense soos Lekota in die Parlement iets daaroor te sê het?
Wie luister na hom? SABCTV en etv wys met groot smaak hoe swartmense betoog by hofsake teen “racist Boer dogs” met plakkate en die werke, en niemand maak beswaar daarteen nie? Altans, nie wat ek van weet nie.
Moenie waardevolle tyd verspil aan dooie varke op Modise se plaas nie.
Dis irrelevant en spreek nie regtig die probleem aan nie.
Die verarming van ons mense oor die gebrek aan regering in hierdie land, politieke korrektheid en banggeit is ons probleem.
Nie die voortbestaan van die taal Afrikaans nie. Hy sal sonder ons hulp regkom, want hy het nie wette nodig om hom aan die lewe te hou nie.
Ons sal in elkgeval in Namibië nog lank Afrikaans praat, selfs nadat die Boere hier dit nie meer doen nie, en ek hoop nie ek beleef ooit daardie dag nie.
Blik op oneindig, verstand op nul?

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button