Die kragmasjientjie: flikkerligte, piep-geluide en ’n leë beursie
’n Humoristiese blik op die stres en drama van prepaid-krag en sy piep-masjientjie.
Gee my krag… en ek bedoel die soort wat jou ligte laat aanhou brand! Ons sit mos nou met daardie ou speletjie waar jy eers krag moet koop net om die yskas se liggie aan te hou. Ek is nog nie seker of dit ’n seën of ’n vloek is nie, want daardie rooi liggie hou daarvan om heeltyd te flikker, soos ‘n diskobal in die 70’s. En nie lank daarna nie, begin die masjientjie daardie irriterende, senu-tergende piep-geluid maak. Hoe laer die eenhede, hoe vinniger piep hy, tot jy soos ’n ninja deur die huis hardloop om elke moontlike appliance af te sit. Jy’s selfs te bang om asem te haal, vir ingeval dit ook ’n paar units gebruik. Jy praat met die yskas, probeer hom oortuig om die liggie aan te hou sonder ekstra eenhede, en selfs die ketel kry ’n uitskelling: “Hou jou eenhede stil, ek doen dit vir jou!”
Die vrees is real, want partykeer is payday nog ver, maar die masjientjie gee glad nie om nie. Hy sluk units in soos ’n tingerige tannie by ’n eetkompetisie, jy dink sy gaan niks regkry nie, en toe wen sy die hele ding. Jy sit en wonder hoe ’n klein masjientjie soveel mag kan hê en jou lewe so kan beheer.
En dit word net erger: hoe meer geld jy op die masjientjie laai, hoe minder eenhede kry jy. Dis asof daar ’n bodemlose gat agter die knoppies sit wat net greedy sit en wag, ’n soort geheime bose plan wat sê: “Ag, gee haar net ’n handjievol eenhede, al lees sy ’n klein fortuintjie in.” Jy begin die nommers intik met ’n mengsel van hoop en wanhoop, en wag in spanning soos iemand wat by ’n dobbelmasjien sit en hoop dat die handvatsel jou geluk bring. Jy wag vir die jackpot, kyk na elke flikkering en piep, maar diep binne weet jy reeds, die masjien speel nooit fair nie. Jy sukkel om kalm te bly, maar elke piep voel soos ’n persoonlike aanval op jou beursie.
Jy dink aan al die ander appliances in die huis wat wag om krag te trek: die mikrogolfoond wat heimlik jou eenhede steel, die TV wat dalk sommer stilweg ’n paar ekstra stukkies van jou krag vat, en selfs die yskas wat jou aankyk met sy liggie en sê: “Jy dink jy hou my aan die gang? Ek het my eie planne.” Jy voel soos ’n pawn in ’n sadistiese speletjie wat nooit eindig nie, en jy sit daar en wonder hoe hierdie normaal kan wees.
Dis nie net krag koop nie, dis ’n adrenalien-verslaafde dobbelavontuur, ’n skouspel van flikkering, piep en units wat verdwyn soos water deur ’n dreineringsgat. Jy sit daar, jou hart in jou keel, jou beursie heelwat ligter, en jy kan net hoop dat die masjientjie jou hierdie keer nie heeltemal gaan uitlag nie. Maar tog, kan ons nie survive of eerder gemaklik survive sonder elektrisiteit nie, dus speel jy maar die speletjie, flikkerende liggie en al – it is what it is!
ALSO READ: Vryheid residents outraged over inflated municipal utility bills
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



