Januarie, matriek en die rok wat nog nie bestaan nie
Januarie, matriek en finansiële stres bots terwyl die matriekafskeid al nader kruip.
Januarie het ’n spesiale soort harshness. Dis daai maand wat ook bekend staan as no man’s land, want niemand weet regtig of die jaar al begin het, en of ons nog in die doodsnikke van die vorige jaar vasgevang sit nie. Jy’s terug by die werk, maar jou siel is nog met vakansie. Jou brein het nie ingeteken vir hierdie chaos nie.
En dan is daar die lengte van Januarie. Hierdie maand is nie 31 dae nie, dis ’n volle 96. Minimum. Dit voel soos forever and a day voordat payday weer opdaag sodat ’n mens net kan asemhaal sonder om jou bank app met een oog toe, oop te maak.
Januarie is ook die maand waar almal bakhand staan. Mediesefondse besluit skielik hulle is luuks en skiet die bydraes die hoogte in. Skoolfonds klim soos ’n berg sonder ’n paadjie. Kospryse het duidelik nie die memo gekry dat dit vakansie was nie en skryfbehoeftes? Nee wat. Dis nie net penne en boeke nie, dis ’n hele stationery winkel wat jy moet finansier.
En dan is daar die Feisty One. Sy het nie net nodig nie, sy benodig. Die en daai en sus en so. Elke dag nog iets. Januarie hou nie op nie, hy kom net elke oggend met ’n nuwe rekening en ’n attitude.
Bo en behalwe dit alles lê daar die matriekjaar soos ’n berg voor ons. En saam met matriek kom die groot een: die matriekafskeid. Dis daai ding waar mense al in Oktober van verlede jaar photoshoots bespreek het, hare en naels vasgemaak het, en rokke laat invoer het uit lande waarvan ek nie eers die tydsone ken nie.
My timeline is vol ‘Mom prep starts’ en ‘countdown to the big night’, en hier is ons… ons weet nie eers watse kleur rok die Feisty One wil hê nie. Nie wit nie. Nie swart nie. Nie pienk nie. Maar ook dalk pienk. Dit wissel volgens bui en hoeveel slaap sy gehad het.
Daar is mense wat reeds tweede fittings gehad het. Tweede. Ek het nog nie eers die gesprek gehad nie. Ek is nog by “sal ons dalk net begin kyk?” en sy kyk my aan soos iemand wat duidelik nog baie tyd het. Ek het nie tyd nie. Januarie het al my tyd gevat en my geld daarmee saam.
En tog, iewers tussen die stres en die bankbalans, besef ek hierdie is daai jaar. Die laaste van skool. Die laaste van sekere fases. Die jaar waar alles intens is en emosies hoog loop, en elke klein ding voel soos ’n groot ding. Die rok, die dans, die foto’s… dis alles deel van ’n storie wat sy eendag gaan onthou.
So ja, ons is laat. Ons is moeg. Ons is broke. En ons weet nog nie watse kleur rok sy gaan dra nie. Maar ons sal daar uitkom. Soos met alles anders. Een besluit, een rekening en een diep asemteug…
Dis Januarie. Dis matriek. Dis no man’s land. En ons loop dit saam, al struikel ons ’n bietjie langs die pad. Ons leef van koffie, hoop en die wete dat Februarie ten minste korter is. Een lang, duur dag op ’n slag – it is what it is!
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



