Polisie, GPF waarsku oor toename in misdaad oor feestyd
Hou dié veiligheidswenke veral nou oor die Desember-vakansie in gedagte.

Almal van ons sien uit na ‘n feestelike blaaskans! Ongelukkig is die feesseisoen ook ‘n tyd wanneer misdaad toeneem.
Huisbrake by wonings en besighede, en veral ook die diefstal van koper bly ‘n kopseer, is gesê tydens die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) se jaarvergadering wat verlede week gehou is. So ook die toename van veral geweldsmisdaad, kubermisdaad, en drankverwante misdaad.
Hou daarom die volgende in gedagte vir die Desember-vakansie:
As jy in die dorp beweeg of beplan om iewers heen te ry:
* Maak seker jou huis- en motorhekke is gesluit voordat jy ry.
* Sluit jou motordeure wanneer jy ry, en wanneer jy uitklim, maak dubbel seker jou motordeure is gesluit voordat jy wegstap van die motor.
* Wees waaksaam as jy in die dorp beweeg. Wees op jou hoede vir misdadigers wat teen jou sou stamp in ‘n winkel of op ‘n sypaadjie. Dié grypdiewe werk vinnig en kry hul hande op jou selfoon of beursie voordat jy mooi besef wat gebeur het.
* Moenie waardevolle items met jou saamneem nie. ‘n Groot handsak trek en duur juwele trek dadelik aandag. Dra net wat nodig is by jou.
* Voordat jy iewers heen ry, plaas jou handsak in die motor se kattebak.
* Kyk of jou bande en noodwiel reg is voor jy ry en dat jy genoeg brandstof het om jou bestemming te bereik.
* Sorg dat jy ‘n nommer op jou selfoon stoor wat jy met “speed dial” kan skakel in geval van nood.
* Laat iemand na aan jou weet as jy beplan om uit die dorp te ry, en onthou om die persoon te laat weet as jy jou bestemming veilig bereik het.
* Probeer die voertuigregistrasienommer neerskryf, sou jy ‘n verdagte voertuig opmerk.
As jy tuisbly:
* Hou ‘n ogie vir ongeruimdhede in jou straat en maak seker jy het die regte kontaknommers vir enige noodgeval.
* Let ook op na jou buurman se huis vir ongewone bewegings en skakel dadelik jou bure as iets ongewoon sou lyk.
* Moenie vullissakke lank voor die tyd uitsit nie. Dit skep onnodige beweging in ‘n woonbuurt.
* Sluit aan by jou straat se WhatsApp-groep wat help met maklike kommunikasie om inligting deur te gee en in geval van nood.
* Maak seker jy het die regte noodnommers en stoor dit waar jy dit maklik kan kry op jou selfoon.
* Hou ‘n lys van waardevolle items in jou huis; dit moet verkieslik die model, reeksnommer, foto/beskrywing en waarde van items bevat. Sou daar by jou ingebreek word, kan die omvang van verlies makliker bepaal word, en uitkenning positief geskied sou items teruggevind word.
* Wanneer jy sou kaste skoonmaak gedurende die vakansie, gee ‘n getekende nota saam sou jy goedere vir ‘n huis- of tuinhulp of werker gee. Spesifiseer op die nota wat jy gee, wanneer dit gegee is, wie jy is en ‘n kontaknommer. Sodoende skakel dit onnodige verwarring uit sou mense iemand sien beweeg met items wat verdag mag voorkom.
* Aktiveer ook saans jou alarm en moenie voertuie in die straat los of met jou motorhekke wat oopstaan nie.
As jy weggaan:
* Indien jy weggaan vir die feesseisoen, moet dit nie op sosiale media of publieke groepe verkondig nie! Dit is ‘n groot uitnodiging vir misdadigers!
* Skakel ‘n vertroueling/e om ‘n ogie te help hou en pos uit jou posbus te verwyder.
* Maak seker jou diere word goed versorg tydens jou afwesigheid, veral oor die feestyd wanneer vuurwerke geskiet word.
* Maak seker dat jy voorsiening maak vir elekriese, water en gas probleme.
* Maak jou yskas leeg en los hom oop.
* Draai stopkrane toe om waterskade te voorkom as gevolg van gebarste pype.
* Draai gassilinders toe. ‘n Klein gaslek in ‘n toe vertrek kan ‘n brandgevaar inhou.
* Bêre alle losstaande tuintoerusting wat gesteel of gebruik kan word om mee in te breek.
* Toets jou alarm voordat jy weggaan en maak seker dit is geaktiveer.
* Laat iemand daagliks ligte vir jou aan- en afsit by jou huis.
Aanlynbedrog:
* Mense koop graag oor die Feestyd en ook nou met “Black Friday” winskopies.
* Ongelukkig kos kuberbedrog mense daagliks duisende en steeds val mense vir die slenters van swendelaars op sosiale media platforms en by vals webtuistes. Dit is veral bejaardes wat dikwels slagoffers is van hierdie misdaad. Vergeet daarvan om jou geld terug te kry as jy geval het vir die slenters. Aanlyn skurke se kontakbesonderhede bestaan gewoonlik nie meer die oomblik wannneer jy die geld in hul rekening oorgeplaas het. Jou bank of versekeringsmaatskappy gaan jou nie sommer vergoed vir geld wat jy vrywillig in iemand se rekening inbetaal het nie.
* Die goue reël is- as iets te goed is om waar te wees, dan is dit té geod om waar te wees.
Jy kan nie ‘n produk of item koop as jy dit nie gesien het nie, nie die kontakpersoon se besonderhede behoorlik nagegaan het, of seker gemaak het die webtuiste of individu/besigheid wat die produk adverteer eg is nie.
* Die gesegde sê nie verniet – goedkoop koop is duur koop nie. Vergelyk die produk wat jy aanlyn sou sien met soortgelyke produkte se pryse. As die prys baie laer is, kan jy maar weet daar is heel waarskynlik ‘n slang in die gras.
* Moet nooit jou geheime sekerheidskode (OTP), bankrekeningnommer of enige ander persoonlike inligting vir iemand telefonies gee nie – nie eens vir die bank nie.
* As jy nie self besig is met ‘n transaksie nie, kan jy geen transaksie magtig nie.
* Moenie op skakels wat jy per WhatsApp, epos of Facebook sou ontvang sommer net klik nie – gaan maak eers seker van die oorsprong en egtheid daarvan.
* As iemand jou sou bel oor ‘n verdagte transaksie waarmee hulle jou kwansuis wil help om te stop, sit neer die foon en kom so vinnig moontlik self by jou bank uit.
Kitsbanke:
* Moet nooit hulp van vreemdes by ‘n kitsbank aanvaar nie. Nie eens van ‘n sekuriteitswag nie.
* As jy na ‘n kitsbank toe moet gaan, gaan gedurende besigheidsure. Vermy kitsbanke oor naweke en na-ure wanneer daar nie sekuriteitspersoneel is nie
* As jy sukkel om jou kaart in die kaartgleuf te kry, kan jy maar weet daar is gepeuter. Moet dan ook nie na ‘n ander kitsbank in die direkte omgewing gaan nie.
* Vermy dit om groot bedrae kontant by ‘n kitsbank te trek.



