Hande gevat vir Penbuddy inisiatief
Dankie aan elke ouer, onderwyser, kleuter, leerder en sakelui wat met soveel geesdrif die afgelope maande gehelp het om die skryfbehoeftes in te samel.

Aan die begin van ‘n nuwe skooljaar is daar saam met skoolklere ook lyste skryfbehoeftes wat gekoop moet word, en word ou/gebruikte skryfbehoeftes dikwels weggegooi of in ‘n kas gedruk. Ongelukkig is skryfbehoeftes duur, en is daar al meer
kinders wat ‘n skooljaar begin sonder die nodige in ‘n skooltas.
Parys Gazette het vanjaar met die Penbuddy-projek kragte saamgespan met Die Klerekas, skole en kleuterskole in die gemeenskap om ou/gebruikte skryfbehoeftes in te samel en te verpak vir skole om op dié manier te voorsien vir hulle wat
nie skryfbehoeftes het nie. In elke boks is ‘n verskeidenheid items gepak – van liniale tot skêre, potlode,
penne en selfs pennesakkies en boekoortreksels.



Die gedagte was dat enigeen wat skryfbehoeftes benodig gehelp kan word uit die Penbuddy-bokse wat by skole in die Parys en Vredefort gemeenskappe oorhandig is.
Mense se harte was oop vir die projek en kon naas die skole ook ‘n skenking van inkleurboeke, kryte en klei aan die inwoners van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Parys oorhandig word vir hul terapiesessies.

Hierbenewens het die Penbuddy-projek ‘n geldelike skenking van mnr. George Papavarnavas ontvang wat aan Solidariteit oorhandig is vir dié organisasie se Tassieprojek waarmee graad een-leerders in Parys jaarliks met tasse en skryfbehoeftes gehelp word waar nodig. Sewentien kinders in Parys het vanjaar by die Tassieprojek gebaat.


Spesiale dank aan Die Klerekas, George Papavarnavas en personeel, Parys Christelike Skool en Noag se Arkie, Bumble Tots Montesorri en Dome Combined School.




