Meer as 3 000 stap op Goeie Vrydag met kruise deur dorp se strate
Dir was vanjaar die vierde jaar dat die Vrystaatse dorp sy hart en sy strate oopgemaak het vir mense om Paasfees op hierdie besondere wyse te kon beleef.

Meer as 3 000 mense het vandag op Goeie Vrydag in die Vrystaatse dorp Vredefort saamgetrek op die dorp se sportgronde vir Die Kruistog, waarmee dié dorp die afgelope vier jaar mense van oral oor ‘n besondere Paasbelewenis gee wanneer die 3km sirkelroete met kruise deur die dorp se strate gestap word.
Vir twee maande het die gemeenskap van dié klein dorpie, maar ook van Parys gehelp om reg te maak vir vanjaar se Kruistog. Die dorp is skoongemaak, netjies gemaak, duisende blomme gevou vir die Kroon-vlot wat vanjaar se Kruistog gelei het, en meer as 500 kruise gebou vir mense wat wou saamstap.
Vanoggend se Kruistog is voorafgegaan met losprysing, en die gebruik van die Nagmaal en het baie getuig van hoe dié besondere geleentheid die Paas-boodskap in meer as woorde oorgedra het.
Langs die roete was verskeie stasies wat die lewe en gelykenisse van Jesus uitgebeeld het.
Die Kruistog is ‘n gemeenskapsprojek. ‘n Projek wat oor meer gaan as net wat op hierdie dag gebeur. Dit is ‘n projek uit die gemeenskap vir die gemeenskap wat mense saamsnoer en harte oor grense heen raak.
Geen geld word met Die Kruistog gemaak nie. Daar word alleenlik op borge se ondersteuning vertrou om elke jaar Die Kruistog moontlik te maak. “Ons gee ‘n klein bietjie terug in vergelyking met wat Hy vir ons gegee het met die grootste transaksie van alle tye,” het Juan Greeff in sy boodskap gesê.



































