Beurtkrag veroorsaak paniek toe water kom
Verskeie ander oorde teenaan die Vaalrivieroewer moes van hul laerliggende chalets ontruim namate die Vaalrivier se watervlak begin styg het. Veral in die Koppies, Viljoenskroon en Bothaville distrikte is groot skade gelei.
Beurtkrag wat verlede Donderdag ter elfder uur op kort kennisgewing deur Eskom ingestel is het tot groot paniek onder oordeienaars langs die Vaalrivieroewer gelei het, wat inderhaas eiendom en mense moes ontruim. Met 10 sluise wat in totaal by Vaaldam oop was op 25 April het die Vaalrivier se watervlak drasties gestyg. Die situasie is vererger deur swaar reën en spruite soos die Rietspruit en Kromelmboog, asook ander riviere wat in vloed was.
Jan-Danie Malan van Udolpho het vertel dat met selfoonsein wat reeds wisselvallig is by dié oord, het die boodskap van beurtkrag heeltemal te laat deurgekom. “Dit was die kersie op die koek dat Eskom in ‘n uur van nood krag afskakel. Ons het net ‘n paar solarligte gehad wat lig gemaak het en moes met flitse in die hand rondhardloop om voor te berei vir die water wat sou kom,” het hy gesê. Teen Woensdag was die rivier by Udolpho nog ‘n meter onder die 2023 vloedlyn en was daar nog nie skade nie, hoewel Malan gesê het hy glo die gevaar is nog nie verby nie, veral met nog reën wat voorspel word.
Sowat 60 gaste wat by Sunwa gehuisves was vir die afgelope week se Association Round Table Southern Africa se nasionale jaarvergadering in Parys, moes geskuif word nadat ontruim is by die oord weens die stygende vloedwater.
Verskeie ander oorde teenaan die Vaalrivieroewer het ook van hul laerliggende chalets ontruim namate die rivier begin styg het. Veral in die Koppies, Viljoenskroon en Bothaville distrikte is groot skade gelei.
Vernon du Preez van Noordwes/Vrystaat Landelike Beveiliging het vertel van die afgelope week se chaos met die water en op paaie. Hy sê al die naweekhuise by Bosdraai teenaan die Vaalrivier langs die Leeudoringstad-pad moes Vrydag ontruim word, en het hulle al enkeldiepte in die water gestaan terwyl ontruim is.
Ook by Groep 14, sowat 10km buite Bothaville, is ‘n hele paar huise ontruim, asook twee huise by Armanskraal.





